Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA is gekant teen Simelane se BRICS-reis te midde van korrupsiebewerings
# Die DA vra vir nasionale optrede teen afpersers wat maatskaplike werkers in kwesbare gemeenskappe teiken
# En, krieket: Die Proteas-vroue is gereed om Pakistan te takel
# ActionSA veroordeel die minister van Justisie, Thembi Simelane, se beplande bywoning van die vergadering van ministers van BRICS in Rusland, te midde van ernstige korrupsie-bewerings. Die party wil haar geskors hê oor haar betrokkenheid by die onwettige belegging van 356-miljoen-rand in VBS Bank toe sy burgemeester van Polokwane was. ActionSA vra die kantoor van die Openbare Beskermer vir ‘n onafhanklike ondersoek. Woordvoerder Athol Trollip beklemtoon die belangrikheid om die integriteit van die regstelsel te beskerm:
# Die DA het ‘n ontstellende neiging aangemeld oor afpersers wat maatskaplike werkers in kwesbare gemeenskappe in die Wes-Kaap teiken. Die party doen ‘n beroep op die staat om meer beskerming vir hierdie noodsaaklike diensverskaffers te verseker. Wendy Kaizer-Philander sê maatskaplike werkers, wat reeds kwesbaar is vir aanvalle en kapings, het die afgelope jaar 41 voorvalle aangemeld, insluitend aanrandings en rooftogte:
# ‘n Jeff Bezos-gesteunde groep, die Global Energy Alliance for People and Planet, stel ‘n program bekend om beleggings in Suid-Afrikaanse munisipale kragnetwerke te lok. Die netwerke het 319-miljard-rand nodig om hernubare energie te akkommodeer. Die alliansie, wat deur die Bezos-aardfonds, die Rockefeller-stigting en die Ikea-stigting tot stand gebring is, hoop om infrastruktuur te verbeter en munisipaliteite te ondersteun wat sukkel om fondse in te samel. Die program sal fokus op stede soos Rustenburg en Newcastle. Die groep het reeds in Suid-Afrika belê met die vestiging van ‘n opleidingsfasiliteit vir hernubare energiewerkers.
# Amerika het bekendgemaak hy berei ʼn spoedige en groot hulppakket voor vir Oekraïne. Dit kom terwyl Amerika en Brittanje beraadslaag oor Oekraïne se moontlike gebruik van wapens wat deur die Weste verskaf word vir aanvalle binne Rusland. Die nasionale veiligheidsraadgewer van die Withuis, Jake Sullivan, sê president Joe Biden sal sy Oekraïnse ampsgenoot, Volodomyr Zelensky, later vandeesmaand ontmoet. Die land maak volgens berigte min vordering terwyl Rusland suksesse behaal in die Pokrovsk-streek.
# Krieket: Die Proteas-vroue takel Pakistan vandag in Multan, in die eerste van drie T20-wedstryde. Die reeks dien as belangrike voorbereiding vir volgende maand se T20 Wêreldbeker-toernooi in die Verenigde Arabiese Emirate, waar Suid-Afrika saam met die Wes-Indiese Eilande, Engeland, Skotland en Bangladesj in ‘n groep is. Kaptein Laura Wolvaardt sê hulle wil op alle gebiede verbeter:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-762-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-582-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….