Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA dreig met regstappe as die BELA-wetsontwerp onderteken word
# Amerika en Brittanje se top diplomate besoek Oekraïne om die gebruik van lang-afstand missiele te bespreek
# En, rugby: Griekwa-spelers sluit by die Stormers aan vir voorseisoense voorbereidings
# ActionSA het met regstappe gedreig indien president Cyril Ramaphosa Vrydag die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette onderteken. Die party het die wetsontwerp gekritiseer vir die konsolidering van mag, beperkings op tuisonderrig en onduidelike befondsing vir verpligte graad R. Hulle vra ‘n deeglike hersiening voordat die wetsontwerp in werking gestel word. Samkelo Mgobozi van ActionSA voer aan die wetsontwerp ondermyn skoolbeheerliggame en skend opvoedkundige regte:
# RISE Mzansi het ‘n beroep op die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, gedoen om te verseker Batho Pele-beginsels word gehandhaaf in openbare gesondheidsorg, ná swak pasiëntediens in die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg. Die woordvoerder, Gugu Ndima, sê die party het die noodsaaklikheid beklemtoon van onmiddellike optrede wat verder gaan as die Nasionale Gesondheidsversekering. Sy sê die party eis bekwame administrasie en beter geriewe om Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel met sy gebrekkige hulpbronne reg te stel:
# Die Munisipale Afbakeningsraad voer landwyd gesprek oor die wykafbakeningsproses voor 2026 se plaaslike verkiesing. Die gesprekke wil rolspelers, onder andere tradisionele leiers en munisipale amptenare, opvoed oor die afbakeningsproses en die kriteria wat gebruik word, soos om gebalanseerde kiesergetalle per wyk te waarborg. Die voorsitter van die raad, Thabo Manyoni, sê openbare gesprekke sal ook volgende jaar gevoer word om insette van gemeenskappe te kry oor konsep-wyksgrense voor dit afgehandel word.
# Amerika en Brittanje se top diplomate besoek Oekraïne waar hulle die verdere verslapping sal bespreek van regulasies oor die afvuur van Westerse wapens in Rusland, wie se beweerde aankoop van Iranse missiele nuwe vrese ontketen het. Amerika se minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, en sy Britse ampsgenoot, David Lammy, het per trein van Pole na Kiëf gereis. Die Britse Arbeidersregering het beloof om sy rol as sleutelverdediger van Oekraïne vol te hou nadat president Volodimir Zelensky die Weste weer gevra het vir wapens met meer vuurkrag en minder beperkings.
# Rugby: ‘n Groep Griekwa-spelers sal by die Stormers aansluit vir hulle voorseisoen-voorbereidings as deel van ‘n ontwikkelings-ooreenkoms tussen die twee spanne. Dit stel spelers in staat om maklik tussen die twee groepe te beweeg deur middel van ‘n leenstruktuur. Die heelagter Connor Mahoney, die slot Dylan Sjoblom en die stut Leon Lyons het reeds almal by die Stormers aangesluit terwyl voorbereiding vir die komende veldtog stukrag kry. Die vleuel Dylan Maart, die losvoorspeler Marco de Witt en die stut Cebo Dlamini sal in ‘n later stadium aansluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-827-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-517-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….