Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Samwu beklink ‘n 6-persent-salarisverhoging vir munisipale amptenare
# China ontruim 400-duisend mense voor die aankoms van die super-tifoon Yagi
# En sokker: Hugo Broos sê dis noodsaaklik dat Bafana sy Afrikabeker-kwalifiseerders wen
# Die munisipale vakbond Samwu het ‘n beduidende salaris- en loonverhogings-ooreenkoms van vyf-jaar met die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsorganisasie beklink. Dit is terugwerkend tot Julie, en sluit ‘n verhoging van ses-persent vir munisipale amptenare in, terwyl toekomstige verhogings aan inflasie gekoppel is. Dit stel ook nuwe behuisingsvoordele vir lae-inkomste-werknemers in, en ‘n fokus op verbeterde behuisings-toegang. Samwu se hoofsekretaris, Dumisane Magagulu, sê die geskiedkundige ooreenkoms beloof bestendigheid en langtermyn-voordele vir die land se 300-duisend munipale amptenare:
Nog munisipale nuus: Die Community Action Network sê hy gaan die Koalisiewetsontwerp nougeset monitor en druk uitoefen terwyl dit deur die Parlement gevoer word. Die netwerk is ‘n afdeling van die Organisasie teen Belastingmisbruik en is van mening die Wysigingswetsontwerp op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, kan munisipale selfregering en demokratiese prosesse ondermyn. Die netwerk se projekbestuurder, Jonathan Erasmus, kritiseer die wetsontwerp weens buitensporige politieke oorskryding en beperkings op mosies van wantroue.
# ‘n Drie-en-twintigjarige vrou wat aangekla word van die verdrinking van ‘n jong kind in die Oos-Kaap, sal Maandag na die Landdroshof in Mqanduli terugkeer vir ‘n formele borgtogaansoek. Polisiewoordvoerder Siphokazi Mawiza sê Noluvuyo Sinyikatha het na bewering Woensdag die sesjarige meisie na ‘n plaaslike dam gelok. Sy sê Sinyikatha is in hegtenis geneem en aangekla van moord:
# China het sowat 400-duisend mense ontruim voor een van die jaar se kragtigste storms die land na verwagting gaan tref by die gewilde toeriste-eiland Hainan. Treine, bote en vlugte is vir ‘n tweede dag opgeskort en skole bly gesluit. Die super-tifoon Yagi gaan tans gepaard met windsnelhede van tot 240-kilometer per uur. Weerkundiges sê dit kan katastrofiese skade aanrig aan Hainan en die naburige Guangdong. Die owerhede glo Yagi gaan die sterkste tifoon wees om sy suidkus in ‘n dekade te tref.
# Sokker: Bafana Bafana speel vanaand teen Uganda in die Orlando-stadion in die eerste ronde van hulle Afrikabeker-kwalifseerders. Suid-Afrika kom Dinsdag in Juba teen Suid-Soedan te staan. Bafana het slegs ses uit 34 wedstryde verloor sedert Hugo Broos byna drie-en-‘n-half jaar gelede die afrigter geword hy. Hy het die span uitgedaag om op dié standaard voort te bou:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-851-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-512-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….