Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa herbevestig sy verbintenis tot internasionalisme op die China-Afrika-spitsberaad
# Die ACDP waarsku oor ‘n toenemende veearts-krisis met beroepslui wat Suid-Afrika verlaat
# En, rugby: Kolisi se terugkeer na die Haaie is nou glo weer ‘n moontlikheid
# President Cyril Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid stel steeds die Afrika-unie se Agenda 2063 voorop en ‘n beter Afrika lê aan die hart van sy buitelande beleid. Ramaphosa het gepraat op die China-Afrika-samewerkingspitberaad in Beijing, en Suid-Afrika se verbintenis beklemtoon tot progressiewe internasionalisme. Hy het die gedeelde doelwitte met China uitgelig tot die bevordering van die belange van Afrika en die globale suide:
# Die ACDP sê Suid-Afrika het te kampe met ‘n kritieke tekort aan veeartse weens die aansienlike emigrasie van beroepslui. Die party sê die vertrek van veeartse het ‘n ernstige tekort veroorsaak, veral in landelike gebiede. Die land het net omtrent 60 veeartse per miljoen mense, wat heelwat minder is as die internasionale standaard van 200 tot 400. Die adjunkpresident van die ACDP, Wayne Thring, vra dringende maatreëls om opgeleide veeartse te behou en te voldoen aan kritieke diere-behoeftes:
# Die Departement van Petroleum en Minerale Hulpbronne het aangekondig brandstofpryse gaan môre om middernag daal tot hulle laagste vlakke sedert vroeg verlede jaar. Dan sal die prys van 93- en 95-oktaan-petrol met 92-sent per liter verlaag word, terwyl dieselpryse daal met onderskeidelik een-rand-vyf-sent en 79-sent per liter. Lampolie word besnoei met een-rand-drie-sent per liter en vloeibare gas sal tien-sent per kilogram goedkoper wees. Die verlagings word toegeskryf aan die afname in die prys van Brent-ruolie en ‘n sterker rand.
# Rugby: Springbokkaptein Siya Kolisi se terugkeer na die Haaie is nou weer ‘n moontlikheid. Kolisi probeer na net minder as ‘n jaar uit sy driejaarkontrak met Racing 92 kom, maar die Franse klub se president, Jacky Lorenzetti, wou vooraf ‘n vrystellingsfooi van omtrent 17-miljoen-rand hê. Die Haaie wou dit in paaiemente afbetaal. Die sakeman Vincent Mai, wat ook vir Kolisi op die Hoërskool Grey in Gqeberha betaal het, het nou glo aangebied om die Haaie met die betaling te help.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-331-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-500-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte: Die karkas van ‘n Beluga-walvis wat na bewering deur Rusland as ‘n spioen opgelei is, is aan die Noorweegse kus aangetref. Die walvis is vyf jaar gelede die eerste keer in Noorweegse seegebied opgemerk met ‘n GoPro-kamera aan ‘n harnas met die etiket “Toerusting van St Petersburg”. Die ontdekking het gelei tot ‘n ondersoek deur Noorweegse intelligensie wat later gesê het die walvis was gewoond aan mense en is waarskynlik opgelei deur die Russiese Weermag. Moskou het nooit gereageer op die aantygings nie, maar Rusland het ‘n geskiedenis van die oplei van seediere vir militêre doeleindes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….