Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society eis daadwerklike optrede te midde van ‘n kommerwekkende styging in geweld
# ATM doen ‘n beroep op die regering om die pensioenfonds-onttrekkingsperk te verhoog te midde van finansiële opdraendes
# En, rugby: Ben-Jason Dixon maak opgang in die Bokspan
# Action Society sê die jongste misdaadstatistieke toon ‘n kommerwekkende styging in geweld met onrusbarende syfers vir moord, verkragting en aanranding. Die organisasie kritiseer die vorige administrasie vir die vertraging met die vrystelling van hierdie syfers en beskou dit as ‘n politieke skuif. Woordvoerder, Juanita du Preez, verwelkom die verbintenis van die minister van Polisie, Senzo Mchunu, om korrupsie te bestry en misdaadintelligensie te verbeter, maar verwag beslissender en doeltreffender maatreëls om die groterwordende krisis teen te werk:
# Die African Transformation Movement vra ‘n hersiening van die perk van 30-duisend-rand op pensioenfondsonttrekkings. Hulle voer aan die huidige perk ingevolge die tweepot-aftreestelsel wat volgende maand in werking tree, is onvoldoende, wat werkers in dieper finansiële verknorsings dompel weens versteekte belasting en fooie. Die ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, vra die Parlement om die onttrekkingsperk te verhoog, wat toegang tot ‘n groter gedeelte van die pensioenspaargeld sal bied en werkers in staat sal stel om beter beheer oor hulle finansies te neem.
# Die Outomobiel-Assosiasie sê alle brandstofpryse sal in September verlaag word vir die vierde agtereenvolgende maand. Woordvoerder Eleanor Mavimbela sê ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds toon die prys van 95-oktaan petrol sal met ongeveer 94-sent per liter daal, en 93-oktaan s’n met ongeveer 86-sent per liter. Sy sê die groothandelprys van diesel sal sowat 76-sent per liter daal en lampolie met bykans 1-rand-een-sent per liter:
# Die wêreldwye lugvrag-aanvraag het in Julie ‘n toename van 13,6-persent beleef, met internasionale vraag wat met 14,3-persent gestyg het. Dit is die agste agtereenvolgende maand van dubbelsyfergroei. Volgens die Internasionale Lugvervoervereniging het vermoë ook toegeneem, met die globale vragvermoë wat met 8,3-persent gestyg het, aangevuur deur ‘n toename in laer-houervlakvermoë wat op internasionale roetes gestyg het. Die Asië-Stille Oseaangebied loop voor met ‘n aanvraagstyging van 17,6-persent, terwyl Afrika die tweede grootste toename in vermoë aangeteken het van 10,5-persent.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Ben-Jason Dixon is besig om opgang te maak en staan voor die grootste uitdaging van sy kort internasionale loopbaan tot dusver. Dit sal die 26-jarige se vierde toets wees wanneer hy môre in Suid-Afrika se opdrafspan is in die Rugbykampioenskaps-kragmeting met Nieu-Seeland op Ellispark. Dixon sê dit is ‘n droom wat bewaarheid is om vir die Bokke teen die All Blacks te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-586-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-521-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….