Nuus 16:00
BULLETIN 27 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Judges Matter sê Mbenenge se skorsing strook met die Regterlike Dienskommissie se gevestigde praktyk
# Die IVP vra die vinnige aanstelling van ‘n nuwe hoof na Andrea Johnson se bedanking
# En nuus van die Statebondspele: Vyf Suid-Afrikaanse baanatlete kwalifiseer vir die volgende rondes
# Die regterlike waghond Judges Matter sê die Regterlike Dienskommissie se aanbeveling dat president Cyril Ramaphosa die Oos-Kaapse regterpresident Selby Mbenenge skors, is in ooreenstemming met gevestigde praktyk. Mbenenge is skuldig bevind aan growwe wangedrag in verband met bewerings van seksuele teistering van sy sekretaresse, Andiswa Mengo. Mbekezeli Benjamin van Judges Matter sê regters wat teregstaan op aanklagte van wangedrag word gewoonlik geskors om die integriteit van die regbank te beskerm:
# Die Inkatha Vryheidsparty sê Suid-Afrika se teen-korrupsie-instellings moet gelei word deur mense wat openbare vertroue inspireer en integriteit, onafhanklikheid en professionaliteit handhaaf. Die party het reageer op Andrea Johnson se bedanking as hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie. Die IVP se woordvoerder, Nhlanhla Hadebe, vra ‘n deursigtige en spoedige aanstelling van ‘n nuwe hoof, en het die regering aangespoor om die land se strafregstelsel en teen-korrupsie-instellings te versterk:
# Die vakverbond Cosatu vra president Ramaphosa om die Spesiale Ondersoekeenheid en die Valke te gelas om alle beleggings van die Openbare Beleggingskorporasie te ondersoek. Talle raadslede het verlede week bedank. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, hou ‘n algemene vergadering. Dit volg na die skorsing van uitvoerende hoof Patrick Dlamini en die waarnemende hoof-beleggingsbeampte, August van Heerden. Woordvoerder Matthew Parks sê die kabinet moet vinnig ʼn nuwe raad aanstel:
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid waarsku werkgewers om aan Suid-Afrika se arbeidswette te voldoen terwyl hy landwye inspeksies verskerp. Adjunkminister Jomo Sibiya sê inspekteurs het 114 werkplekke besoek tydens die eerste gesamentlike landwye inspeksieveldtog in al nege provinsies. Slegs drie werkplekke het aan alle wetsvereistes voldoen. Sibiya sê talle oortredings is ontdek, met baie werkgewers wat nie aan belangrike arbeidswetgewing voldoen nie. Hy sê verdere inspeksies sal uitgevoer word om voldoening af te dwing.
# Nuus van die Statebondspele: Die Suid-Afrikaanse naellopers Akani Simbine, Bradley Nkoana en Gift Leotlela het almal deurgedring na die volgende ronde van die 100-meter tydens vanoggend se eerste baan- en veldnommers in Glasgow. Jacobus le Roux en Sabelo Dhlamini het ook gekwalifiseer vir die volgende ronde van die 110 meter-hekkies. Die middelafstand-gunsteling Prudence Sekgodiso maak vanaand haar Spele-buiging in die openingsuitdunne van die 800-meter. In die 100-meter para-naelloopitems begin Sheryl James en Liezel Gouws hul medaljeveldtogte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-982-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-82-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….