Nuus 16:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 13 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu versoek die regering om die forensiese oudit van die WVF vry te stel en op te tree
# Die DA ontbloot SASSA se kommerwekkende telefoonantwoordkoers van 4,7% in alle takke
# En, krieket: Indië lyk onstuitbaar voor die halfeindronde van die Wêreldbekertoernooi
# Cosatu doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om onverwyld op te tree oor die forensiese oudit van die Werkloosheidsversekeringsfonds en die gepoogde wanbesteding met ‘n tender van vyf-miljard-rand aan Thuja Capital. Hulle eis die verslag moet in die openbaar vrygestel word en daar moet regsgevolge wees vir diegene wat geïmpliseer word. Die woordvoerder van Cosatu, Matthew Parks, sê hy ondersteun die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, se verbintenis om die WVF op te knap, om doeltreffende toegang tot geld vir werkers te verseker en bydraes te beskerm. Parks vra vir die dringende modernisering, deursigtigheid asook die beskerming teen korrupsie in die WVF en beskerming van die geld van werkers.
# Die DA het onthul dat slegs 4,7-persent van meer as 200 takke van SASSA hulle telefone beantwoord, wat kwesbare ontvangers van toelaes gestrand laat. Hulle het verouderde nommers en stelselfoute ontdek. Daar is geen werkende telefoonlyn in Mpumalanga nie, terwyl net een in Noordwes werk. Ondanks die toestand van SASSA se oproepsentrum, wat uit die pandemie dateer, misluk beleggings onder bestuur van die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu. Bridget Masango van die DA sê dis duidelik die regering verwaarloos burgers, wat grondwetlike toegang tot maatskaplike bystand skend:
Speel klankgreep: ENG MasangoOnSassa
# President Cyril Ramaphosa gaan Woensdag ‘n staatsbesoek aan Katar onderneem op uitnodiging van Sy Hoogheid Sheikh Tamim bin Hamad Al Thani, Amir van die Staat Katar. Dit vorm deel van ‘n twee-dae-lange vergadering tussen die regerings van Suid-Afrika en Katar môre en Woensdag. Die besoek vind plaas in die konteks van drie dekades se diplomatieke verhoudings tussen die twee lande, wat in Mei volgende jaar die 30ste herdenking van die totstandkoming van diplomatieke betrekkinge sal vier. Hierdie besoek sal Ramaphosa se eerste besoek aan die staat Katar as Staatshoof wees.
# Die voormalige Britse premier, David Cameron, is in ‘n onverwagte herskommeling as minister van Buitelandse Sake aangestel in Rishi Sunak se kabinet. Cameron vervang vir James Cleverly, wat die nuwe minister van Binnelandse Sake is in die plek van die omstrede Suella Braverman. Sy is afgedank nadat sy die polisie onlangs in ‘n artikel daarvan beskuldig het hulle verkies linkse groepe bo regse en nasionale aktiviste. Cameron was premier van 2010 tot 2016, toe hy bedank het weens die uitslag van die Brexit-referendum nadat Britte ten gunste daarvan gestem het om die Europese Unie te verlaat.
# Krieket: Net vier spanne bly oor in die Wêreldbekertoernooi, met die halfeindronde wat Woensdag begin. Die gasheer, Indië, is die enigste span wat die groepwedstryde onoorwonne kon afsluit en hulle kom in die eerste halfeindstryd in Mumbai teen Nieu-Seeland te staan. Die Swart Pette was vierde op die punteleer. Donderdag is dit die twee spanne wat in die tweede en derde plek geëindig het – Suid-Afrika en Australië − wat sal meeding om ʼn plek in Sondag se eindstryd. Indië se veldwerkafrigter, T Dilip, glo hulle het momentum aan hulle kant:
Speel klankgreep: ENG T Dilip
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-771-dollar-40-sent. Die prys van goud is een-duisend-937-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….