Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Colleen Makhubele bedank uit die Suid-Afrikaanse Reënboog-alliansie en sluit aan by die MK-party
# ‘n Boer en veiligheidswag word aangekeer vir die beweerde moord op twee mans in Mpumalanga
# En, rugby: Scott Robertson besef Ellispark is een van die Bokke se vestings
# Die stigter en president van die Suid-Afrikaanse Reënboog-alliansie, Colleen Makhubele, het uit die party bedank om aan te sluit by Jacob Zuma se MK-party. Die voormalige speaker van die Johannesburgse stadsraad beskryf MK as ‘n baken van hoop vir die vereniging van Afrika-leiers en swart politiek. Sy beklemtoon MK se rol om Suid-Afrika te lei na ‘n transformerende toekoms en die herstel van die waardigheid van Afrikane in die 21ste eeu:
# ‘n Boer en sy veiligheidswag is aangekeer vir die beweerde moord op twee mans op ‘n plaas by Laersdrif buite Middelburg in Mpumalanga. Polisiewoordvoerder Donald Mdhluli sê die twee slagoffers is na bewering daarvan beskuldig dat hulle vee gesteel het, is erg aangerand en is later dood. Hul liggame is nog nie gevind nie. Hy sê ‘n forensiese span besoek die plaas vandag om bewyse te versamel aangesien die twee slagoffers na bewering onherkenbaar verbrand is.
# Suid-Afrika beplan om oor die volgende dekade twee nuwe openbare universiteite en drie privaat tersiêre instellings tot stand te bring. Die regering ontwikkel die Universiteit vir Wetstoepassing en Misdaadopsporing in Hammanskraal, Pretoria, en die Universiteit vir Wetenskap en Innovering in Ekurhuleni, Gauteng. Privaat instellings soos Akademia in Pretoria, Stadio in Durbanville en ‘n AdvTech-universiteit word ook gebou. Volgens BusinessTech is die instellings gemik op die uitbreiding van hoër onderwysgeleenthede en studente-vermoë reg oor die land. Sommige privaat instellings wil ook as universiteite erken word.
# Honderde-duisende dooie visse bedek ‘n Griekse toeristehawe, met owerhede wat in aller yl probeer opruim. Dit is nou ‘n wedloop teen tyd om die tonne dooie vis te versamel en te verwyder voordat die reuk nabygeleë restaurante en hotelle bereik. Die burgemeester van Volos, Achilleas Beos, waarsku die verrottende vis kan tot ‘n omgewingsramp lei vir ander spesies in die gebied. Die ramp is maar die jongste gevolg van uiterste weer weens klimaatsverandering. Griekeland het vanjaar verwoestende veldbrande beleef en wisselvallige reën het ook vloede veroorsaak.
# Rugby: Die hoofafrigter van die All Blacks, Scott Robertson, besef sy manne sal koelkop moet bly in Saterdag se Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Springbokke op Ellispark. Nieu-Seeland wil wraak neem nadat hulle verlede jaar in die Wêreldbeker-eindstryd teen Suid-Afrika vasgeval het. Die Springbokke is boaan die punteleer na twee oortuigende oorwinnings oor Australië terwyl die Kiwi’s gemengde welslae teen Argentinië behaal het. Volgens Robertson is die stadion in Johannesburg een van die gashere se vestings:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-65-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-516-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….