Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu is bekommerd bekommerd oor die gebrek aan inklusiwiteit by die eerste presidensiële billike energie-oordrag-konferensie
# Die Vereniging vir Staatsamptenare is onseker oor die toekoms van personeel van Openbare Ondernemings
# En, tennis: Carlos Alcaraz glo nie ‘n verswikte enkel sal sy Amerikaanse Ope-veldtog laat ontspoor nie
# Cosatu sê hy is diep bekommerd oor die eerste presidensiële billike energie-oordrag-konferensie op munisipale vlak soos dit in sy huidige vorm saamgestel is. Die vakbondfederasie sê die belange en bekommernisse van werkers in Suid-Afrika oor die oorgang na ‘n lae-koolstof-ekonomie, word nie voldoende in ag geneem nie. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die federasie het deurgaans die behoefte aan ‘n billike oorgang beklemtoon, een wat nie slegs die omgewingsfaktore van koolstofuitlatings in ag neem nie, maar ook die lewensbestaan en regte van werkers:
# Die Vereniging vir Staatsamptenare sê die toekoms van personeel van die Departement Openbare Ondernemings is onseker nadat ondernemings in staatsbesit aan verskeie ministeries toegewys is. Eskom is toegewys aan die Ministerie van Elektrisiteit en Energie en die Suid-Afrikaanse Lugdiens is na Vervoer oorgeplaas. ‘n Woordvoerder van die vereniging, Claude Naicker, vra duidelikheid oor personeeloorplasings terwyl die Wet op Staatsondernemings gefinaliseer word:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens geloof vir hulle suksesvolle reddingsoperasie van die pastoor Phillip Mashudu en sy vrou, Elsie, van Bethlehem in die Vrystaat. Die egpaar is Vrydag ontvang deur mense wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het. ‘n Multi-dissiplinêre span het gisteraand hulle veilige ontsetting verseker. Vier verdagtes is aangekeer en word aangekla van kaping en ontvoering. Mchunu het die belangrikheid van integriteit in die polisie beklamtoon en beloof om enige korrupsie uit te roei.
# Die Ramprisikobestuursentrum van die Stad Kaapstad monitor enige moontlike voorvalle wat verband hou met die huidige swak weer. Woordvoerder Sonica Lategan sê volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens sal die reën en rukwinde wat oor die metropool ervaar word, môre in die vroeë oggendure begin opklaar. Sy sê die stad se nooddienste is op gereedheid om aandag te gee aan enige probleme wat mag opduik:
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen Carlos Alcaraz sê hy behoort piekfyn te wees vir sy eerste wedstryd op die Amerikaanse Ope. Hy het Saterdag ophou oefen nadat hy sy enkel verswik het. Die derde-gekeurde Spanjaard sê hy het ‘n paar uur later weer gemaklik gevoel en is nie bekommerd oor sy deelname aan die jaar se laaste Grand Slam-toernooi nie. Hy kom in die eerste ronde op Flushing Meadows in New York te staan teen die wêreld se nommer 189, die Australiër Li Tu.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-449-dollar-37-sent. Die prys van goud is twee-duisend-512-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….