Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet spreek kommer uit oor die voortgesette Israelse aanvalle op burgerlikes in Palestina
# Statistieke Suid-Afrika erken foute in Sensus 2022-data
# En, krieket: Die Proteas pak die Windies in drie T20’s in Tarouba
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet het diepe kommer uitgespreek oor die voortgesette Israelse aanvalle op burgerlikes in Palestina. Die kabinet veroordeel die geweld en vra ‘n onmiddellike einde aan die vyandighede. Ntshavheni het die media toegespreek oor die uitkoms van die kabinetsvergadering en ‘n beroep gedoen vir internasionale ingryping om burgerlikes te beskerm. Sy vra die wêreldgemeenskap om pogings te steun vir ‘n vreedsame oplossing in die streek:
Cosatu verwelkom intussen die globale oproep vir die beëindiging van energie-uitvoere na Israel, en beklemtoon solidariteit met Palestina. Die vakverbond loof Colombië vir die opskorting van steenkooluitvoere na Israel en moedig Suid-Afrikaanse maatskappye, soos Glencore, aan om Afrika se energiebehoeftes voorop te stel. Die organisasie vra die onttrekking van beleggings in Israel, en veroordeel die monopolieë wat die wêreld se energiemarkte beheer, wat konflikte soos die oorlog in Gaza aanvuur. Cosatu vra eerder belegging in Afrika se ontwikkeling.
# Statistieke Suid-Afrika het erken kritieke data in Sensus 2022, waaronder inkomste, indiensneming en stertesyfers, is té foutief vir amptelike gebruik. Die uitslag is voorheen verdedig, ondanks ‘n ondertelling van 30-persent. Die bygewerkte opsomming sluit egter nou dié onderwerpe uit. Statistikus-generaal Risenga Maluleke sê dit was ‘n normale proses in alle sensusse:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het ses motorhandelaars verwys na die Nasionale Verbruikerstribunaal vir die skending van die Wet op Verbruikersbeskerming. Die handelaars is Autoview Pre-Owned, Cederquist Trade Transmission, Myaa Auto, Super-Tech-Motor Holding, Avura Motors en Plett Motors. Klagtes sluit in weiering om foute aan voertuie te herstel en die skending van verbruikersregte. Die kommissie wil vergoeding sien en kan administratiewe boetes oplê van 10-persent van elke handelaar se jaarlikse omset, of ‘n miljoen-rand, wat ookal die meeste is.
# Krieket: Die eerste van drie T20’s tussen die Proteas en die Windies word môre in Tarouba gespeel. Dit volg op die toetsreeks wat Suid-Afrika 1-nul gewen het nadat reën die eerste toets ontwrig het. Die tweede T20 word Sondag gespeel en die laaste een Dinsdag – albei ook in Tarouba. Die Proteas se witbal-afrigter, Rob Walter, sê die reeks is ‘n belangrike deel van die span se reis na die volgende Wêreldbeker-eindstryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-160-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-498-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….