Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die speaker dien ‘n beëdigde verklaring in oor die regsuitdaging teen John Hlophe se aanwysing in regterlike dienskommissie
# Solidariteit waarsku oor die presidensiële gesondheidsooreenkoms
# En, krieket: ‘n Samoaanse kolwer verpletter die T20-wêreldrekord met 39 lopies in een boulbeurt
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het ‘n beëdigde verklaring by die Hooggeregshof ingedien rondom regsuitdagings teen John Hlophe se aanstelling in die regterlike dienskommissie. Die Parlement het die aanwysing verlede maand gedoen, maar dit word uitgedaag nadat hy as regter afgedank is weens growwe wangedrag. Woordvoerder Moloto Mothapo sê die speaker bly neutraal en wys daarop Hlophe se aanwysing was ‘n politieke stap van die Parlement, en die hof moet nou daaroor beslis:
# Die vakbond Solidariteit het organisasies aangemoedig om die presidensiële gesondheidsooreenkoms te verwerp en die herroeping van die Wet op die Nasionale Gesondheidsversekering te eis. Die vakbond waarsku die regering gebruik die ooreenkoms om vals te beweer die privaat sektor steun die NGV, wat hy glo nie uitvoerbaar is nie. Woordvoerder Theuns du Buisson sê sleutelgroepe soos Business Unity South Africa en die Suid-Afrikaanse Samewerkingsgroep vir Gesondheidsberoepe is reeds teen die ooreenkoms gekant:
# ‘n Keniaanse man, wat die polise beweer skuld bekend het op die moord en verminking van 42 vroue, het uit ‘n polisiesel in Nairobi ontsnap saam met twaalf ander aangehoudendes. Die polisie het die 33-jarige Collins Jumaisi as ‘n vampier en psigopaat beskryf. Hy is verlede maand aangekeer na die afgryslike ontdekking van verminkte liggame op ‘n vullishoop in ‘n agterbuurt in die Keniaanse hoofstad. Die ander 12 aangehoudendes wat ook uit die polisieselle ontsnap het, is almal van Eritreë.
# Krieket: ‘n Samoaanse kolwer het ‘n nuwe internasionale T20-rekord opgestel toe hy 39-lopies in ‘n enkele boulbeurt aangeteken het tydens ‘n Wêreldbeker-kwalifiseerder teen Vanuatu in Apia. Darius Visser het ses sesse gemoker terwyl die arme bouler, Nalin Nipiko, boonop drie foutballe afgestuur het. Die 28-jarige, wat in Sydney, Australië, woon, het 132 van net 62 balle aangeteken en Samoa gehelp tot 174. Visser het daarna ‘n paaltjie geneem en Vanuatu is beperk tot 164 vir nege met Samoa wat die kragmeting met 10 lopies gewen het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-693-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-524-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Akademikus aan die Universiteit van Pretoria, Taneshka Kruger, doen ‘n beroep op die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap om die vele uitdagings wat malaria inhou, gesamentlik aan te pak. Dit is vandag Wêreld-muskietdag. Kruger sê die muskiet is die dodelikste ‘dier’ in die wêreld en maak elke jaar meer as 700-duisend mense dood:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….