Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die borgtog-aansoek van Ace Magashule se gewese persoonlike assistent word uitgestel vir die verdediging se betoog
# ‘n Buitengewone raadsvergadering word Vrydag gehou om ‘n nuwe burgemeester vir Johannesburg te verkies
# En, rugby: Rassie maak tien veranderings aan die beginspan vir die toets teen die Wallabies in Perth
# Die borgtog-aansoek van die gewese Vrystaatse premier, Ace Magashule, se voormalige persoonlike assistent, Moroadi Cholota, is tot Donderdag uitgestel. Sy het vandag die tweede keer in die Bloemfonteinse Landdroshof verskyn nadat sy verlede week uit Amerika uitgelewer is. Cholota staan tereg op aanklagte van korrupsie, geldwassery en bedrog wat verband hou met die Vrystaatse asbes-saak. Die staat betoog die 37-jarige is ‘n vlugrisiko omdat sy voorheen nie met die owerhede wou saamwerk nie. Die uitstel gee haar regspan kans om op die staat se betoog te reageer.
# Die speaker van die Johannesburgse stadsraad, Margaret Arnolds, sal Vrydag die voorsitter wees op ‘n buitengewone vergadering om ‘n nuwe burgemeester te verkies na die bedanking van Kabelo Gwamanda. Dit volg na weke se druk van politici en die burgerlike samelewing. Arnolds het Gwamanda lof toegeswaai vir sy diens en wys op sy bydraes, toewyding en leierskap tydens sy ampstermyn. Sy sê die vergadering moet ‘n gladde oorgang en voortgesette bestuur vir die stad se inwoners verseker.
# Statistieke Suid-Afrika se jongste kwartaallikse arbeidsmagopname toon die werkloosheidskoers het in die tweede kwartaal van die jaar tot 33,5-persent gestyg, van 32,9-persent in die eerste kwartaal. Indiensneming het met 92-duisend gestyg tot 16,7-miljoen, terwyl werkloosheid met 158-duisend toegeneem het tot 8,4-miljoen mense. Die meeste werkverliese het in die Wes-Kaap, Mpumalanga en KwaZulu-Natal voorgekom, terwyl Gauteng en Limpopo toenames ondervind het. Dihlolelo Phoshoko van Statistieke SA sê werkloosheid onder vroue het ook tot 35,8-persent gestyg:
# Sierra Leone se president, Julius Maada Bio, vra die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad om te hervorm. Hy pleit as voorsitter van ‘n gesprek oor geskiedkundige onregte, vir permanente lidmaatskap vir Afrika ten einde die raad se doeltreffendheid te verbeter. Bio beklemtoon die behoefte aan groter verteenwoordiging uit Afrika vir die handhawing van internasionale vrede en sekerheid:
# Rugby: Salmaan Moerat voer ‘n Springbok-groep met ‘n nuwe voorkoms aan in Saterdag se tweede toets teen die Wallabies in Perth. Hoofafrigter Rassie Erasmus het 10 veranderings aan die beginspan aangebring wat Australië in die eerste toets in Brisbane 33-7 kafgedraf het. Die gereelde kaptein, Siya Kolisi, kry ‘n blaaskans. Die enigste ander spelers wat in die opdrafspan oorbly, is Cheslin Kolbe, Jesse Kriel, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Elrigh Louw en Pieter-Steph du Toit. Die slot Ruan Nortjé en die skrumskakel Morné van den Berg begin die eerste keer ‘n toets.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-900-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-465-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….