Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verslag toon finansiële instellings bly sterk ondanks ekonomiese uitdagings
# Hoofregter Zondo versoek benoemings vir ‘n vakature in die Konstitusionele Hof
# En, rugby: Die Springbok Evan Roos gaan die res van die jaar misloop weens ‘n skoueroperasie
# Die Reserwebank se Omsigtigheidsowerheid berig die meeste finansiële instellings onder sy toesig bly sterk ondanks ekonomiese uitdagings. Die owerheid werk aan swakhede soos uitgewys deur die Finansiële Aksie-taakmag sedert Suid-Afrika op die gryslys geplaas is weens tekortkominge in die bekamping van geldwassery en finansiering van terrorisme. Uitvoerende hoof Fundi Tshazibana sê hulle wil verseker daar is gesonde bestuur by finansiële instellings om beleggersdeposito’s en polishouersfondse te beskerm. Pogings is op koers om aan die vereistes van die taakmag te voldoen en Suid-Afrika van die gryslys te kry.
# Hoofregter Raymond Zondo het oproepe herhaal vir benoemings om ‘n lank bestaande vakature in die Konstitusionele Hof te vul. Zondo se kantoor het drie benoemings ontvang, wat onvoldoende is vir ‘n kortlys. Benoemings moet teen 30 Augustus ontvang word en die onderhoude is in Oktober, tesame met benoemings vir die Appèlhof en die Wes-Kaapse Hooggeregshof. Zondo het beklemtoon hoe belangrik dit is om hierdie pos te vul:
# Cosatu sê dit is van kritieke belang dat president Cyril Ramaphosa dringend die Wysigingswetsontwerp op Spoorveiligheid bekragtig. Dit sal die magte van die Spoorveiligheidsreguleerder aansienlik uitbrei om veiligheid op die land se spoornetwerk te verseker. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê dit moet saamval met ‘n aggressiewe veiligheidsveldtog deur Metrorail, Transnet en plaaslike regerings om die veiligheid te verseker van alle spooroorgange, veral dié in woonbuurte met hoë verkeersdruk:
# Die Verenigde Nasies se Wêreld-voedselprogram het slegs 20-persent ingesamel vir droogtehulp in Suider-Afrika. Dit is sowat 1,5-miljard-rand van sy doelwit van agt-miljard-rand om die droogte te pak in sewe lande. Die streek ly as gevolg van die El Niño-weerverskynsel en die ergste droogte in dekades het aanleiding gegee tot wydverspreide mis-oeste en voedselonsekerheid. Daar was betekenisvolle ondersteuning deur skenkers maar die WVP kan tot 2025 se oes hulp verskaf aan slegs 5,9-miljoen mense uit altesaam 27-miljoen wat dit nodig het.
# Rugby: Evan Roos sal eers weer volgende jaar vir die Springbokke beskikbaar wees. Die Stormers-agsteman het ‘n operasie ondergaan weens ‘n langtermyn skouerbesering wat volgens dokters onverwyld aandag moes kry. Hy is vir ses tot nege maande buite aksie en sal na verwagting eers in Februarie terugkeer. Die nasionale span het in Roos se afwesigheid steeds vir Elrigh Louw, wat Saterdag in die Rugbykampioenskapstoets teen die Wallabies in Brisbane die eerste keer in die opdrafspan is, asook die Wêreldbeker-wenners Jasper Wiese en Kwagga Smith.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-75-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-402-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….