Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC kritiseer die mediafokus op die polisie eerder as op misdadigers
# Binnelandse Sake gaan ‘n Mej SA-deelnemer se verkiesbaarheid na
# En, krieket: Afrigter Shukri Conrad steun Tristan Stubbs as die Proteas se nommer 3-toetskolwer
# Die nasionale uitvoerende komitee van die ANC kritiseer die media vir die wanvoorstelling van polisie-optrede eerder as om op misdadigers in die situasie te fokus. Die NUK-lekgotla het die media ingelig oor misdaad, dienslewering en plaaslike regeringskwessies. NUK-lid en minister van Polisie, Senzo Mchunu, het die polisie geloof nadat hulle gister ‘n beplande transitorooftog in Khayelitsha, Kaapstad, gefnuik het. Mchunu sê verskeie mense is dood toe die polisie met geweervuur begroet is terwyl hulle met ‘n ondersoek besig was:
# Binnelandse Sake het bevestig hy gaan binnekort begin met ‘n proses om seker te maak van die Mej SA-deelnemer Chidimma Adetshina se geskiktheid om deel te neem nadat toestemming verkry is van haar familielede. Dit gebeur te midde van gesprekke oor haar geskiktheid om die land te verteenwoordig weens haar familie se buitelandse afkoms. Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het aan Newzroom Afrika gesê Adetshina se familielede het die departement gevra om duidelikheid oor die saak:
# Suid-Afrikaanse banke kyk weer na omgekeerde verbande. Water Financial het onlangs aangekondig dat hy 30-duisend tekenvoorkeuraandele uitreik om 30-mijoen-rand te verkry om aan afgetredenes ‘n finansiële medium te bied om lewenskoste te dek sonder om hulle huise te verloor. Die lening-tot-waarde-bedrag strek van 10- tot 50-persent. Omgekeerde verbande bied afgetredenes toegang tot huisverbande sonder maandelikse terugbetalings, wat lenings terugbetaal met verkoop, verhuising of afsterwe. Hierdie program is daarop gemik om te voldoen aan pensioentrekkers se groeiende vraag na aanvullende inkomste.
# Krieket: Die Proteas se toetsafrigter, Shukri Conrad, glo die onervare Tristan Stubbs het wat nodig is om ‘n fantastiese nommer drie-toetskolwer te word. Hy sal die rol vervul in die eerste van twee toetse teen die Windies, wat môre in Trinidad begin. Die witbalkaptein, Aiden Markram, en Tony de Zorzi is Suid-Afrika se aanvangskolwers. Conrad sê hoewel die 23-jarige Stubbs tot dusver nog net in een toets gespeel het, het hy ‘n goeie aura en sterk liggaamstaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-342-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-408-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: Die Wes-Kaapse regering het vir die Zip Zap-sirkus ‘n nuwe perseel by die Kunstekaap se Plaza-voorhof aangebied. Zip Zap se huur verstryk volgende jaar ná 16 jaar by The Dome in die Stigterstuin. Die stigter, Brent van Rensburg, sê die nuwe Zip Zap Arena sal sirkus-kunste en ander kunsvorms soos drama, ballet, dans en opera bied. Die arena se nuwe ontwerp sal soos ʼn tradisionele sirkustent lyk, maar met ʼn moderne kinkel. Die totale projek sal byna 100-miljoen-rand kos.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….