Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie stel belastinghervormings voor in ooreenstemming met onlangse hofuitsprake
# Operasie Shanela lei tot duisende noemenswaardige inhegtenisnemings regoor Suid-Afrika
# En, krieket: Die voormalige Engelse kolwer en afrigter Graham Thorpe sterf
# Die Nasionale Tesourie stel groot belastinghervormings voor om ooreen te stem met onlangse hofuitsprake, en om belasting-ontduiking te voorkom. Sleutelveranderings sluit in maatreëls teen uitbuitende aansporingskemas vir indiensnemingsbelasting, met ‘n 100-persent boete van Maart volgende jaar vir eise wat misbruik word. Hervormings hanteer ook vertroulikheid vir belastingbetalers na die Arena Holdings-saak, om te voldoen aan die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. Daarby sal verteenwoordiging deur leke in belastinghowe toegelaat word na die saak van Candice van der Merwe, wat die regstelsel meer toeganklik en bekostigbaar maak vir belastingbetalers.
# Operasie Shanela het uitgeloop op 13-duisend-966 inhegtenisnemings regoor Suid-Afrika. Dit sluit in vier-duisend-65 gesoekte verdagtes – 106 vir moord, 182 vir verkragting en 240 vir dwelmhandel. Die polisie het beslag gelê op 158 vuurwapens en een-duisend-448 rondes ammunisie, en 74 gekaapte voertuie teruggevind. Woordvoerder Athlenda Mathe sê belangrike suksesse sluit in die redding van 90 slagoffers van mensehandel en beslaglegging op dwelms ter waarde van 300-miljoen-rand:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velinkosini Hlabisa, verdedig president Cyril Ramaphosa se presidensiële imbizo-geleenthede teen bewerings van verkwistende uitgawes. Hlabisa het onthul die geleenthede het oor 18-maande 44-miljoen-rand gekos. Dit is daarop gemik om kwessies oor openbare dienslewering aan te pak en landsburgers toe te laat om hulle kwellinge te lug. Hy het na aanleiding van kritiek van die DA-LP, Frederik Badenhorst, geantwoord die uitgawes was geregverdig. Hlabisa het aan SABC Nuus gesê die kritiek is oordrewe:
# Eskom waarsku oor moontlike wydverspreide bedrog met voorafbetaalde meters wat lei tot vertraagde opdaterings. Sowat 2,7-miljoen Eskom-klante het nog nie krag wettig aangekoop sedert hulle meter vir ‘n noodsaaklike opdatering voorberei is nie. Die kragnutsmaatskappy vermoed talle meters is omseil of kragkrediete is gekoop van onwettige handelaars. Eskom sê die opgradering moet voor 24 November gedoen word om te verhoed dat meters onklaar raak.
# Krieket: Die voormalige Engelse kolwer en afrigter, Graham Thorpe, is oorlede op 55. Thorpe het tussen 1993 en 2005 in 100 toetse gespeel. Hy het tydens sy uitstekende oopbaan vir Engeland 16 honderdtalle behaal en word as een van die beste kolwers van sy era beskou. Hy het altesaam ses-duisend-744 lopies vir Engeland aangeteken teen ‘n gemiddeld van 44 en ook in 82 internasionale eendagwedstryde gespeel. Na sy uittrede in 2005 het hy afgerig en tussen 2010 en 2022 in verskillende posisies met verskeie Engelse internasionale spanne diens gedoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 50-duisend-782-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-385-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….