Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twaalf leerders van Pretoria High School for Girls word onskuldig bevind aan rassisme
# Die AA voorspel ‘n klein daling in brandstofpryse volgende week
# En, rugby: ‘n Nuwe voorry en verskeie agterlynveranderings vir die WP se Curriebekerkragmeting met die Griffons
# Die Pretoria High School for Girls het bekendgemaak die twaalf leerders wat weens beweerde rassisme geskors is, is onskuldig bevind aan wangedrag. Die uitspraak is gelewer deur ‘n paneel van drie persone, onder die voorsitterskap van ‘n advokaat, wat dié week die tugverhoor oor die aangeleentheid gehou het. Die skool het bevestig die prefek-status van die leerders word herstel, en benadruk die dissiplinêre proses was regverdig en deursigtig, en waardevolle lesse is daaruit geleer.
# Die Outomobiel-Assosiasie voorspel klein prysverlagings vir hierdie maand, gegrond op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds. Die prys van 95-oktaan petrol sal na verwagting met ongeveer 14-sent per liter daal en 93-oktaan met nege-sent per liter. ‘n Woordvoerder van die AA, Eleanor Mavimbela, sê dieselpryse kan met ongeveer 26-sent per liter daal en lampolie 21-sent per liter:
# Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek verwag Suid-Afrika se ekonomie sal volgende jaar met 2,2-persent groei, wat voorspellings deur die Reserwebank en die Internasionale Montêre Fonds oorskrei. Die optimistiese vooruitsig word aangevuur deur die samehorigheid in die regering van nasionale eenheid, laer rentekoerse en verminderde beurtkrag. Die buro verwag logistieke kwessies sal afneem, met stygende sake- en verbruikersvertroue, en moontlike rentekoersverlagings om ekonomiese bedrywigheid te steun. Daar is egter steeds kommer oor die komende Amerikaanse presidentsverkiesing en die moontlike uitwerking daarvan op wêreldmarkte.
# ‘n Navorser aan die Universiteit van die Vrystaat, Luther van der Mescht, waarsku Suid-Afrika se beesbedryf staan voor ‘n krisis aangesien bosluise nou weerstandig is teen plaagdoder. Hy het aan eNCA gesê dat die groeiende weerstandigheid weens swak boerderymetodes voortdurend gemonitor moet word. Van der Mescht waarsku dit kan ‘n uitwerking hê op vleis- en melkproduksie wat boere se inkomste en verbruikers se sakke sal raak:
# Rugby: Westelike Provinsie het ‘n heel nuwe voorry vir môre se Curriebeker-ontmoeting met die Griffons in Kaapstad. Die stutte Vernon Matongo en Corné Weilbach is in die beginspan met die ervare Scarra Ntubeni as haker. André Goedhals is op slot met Hendré Stassen wat weens ‘n besering uitgelaat is. Clayton Blommetjies begin as losskakel en Damian Markus begin die eerste keer op binnesenter. JC Mars maak sy senior debuut vir WP op vleuel, met Luke Burger terug op heelagter. Die afskoptyd is 5:15.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-623-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-457-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….