Nuus 16:00
BULLETIN 1 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sê Amerikaanse tariewe is die bitter vrug van die ANC se ontkenning van menseregtekwessies
# Die waarnemende minister van Polisie waarsku teen magsmisbruik
# En Duitsland gaan nog twee Amerikaanse Patriot-lugverdedigingstelsels aan Oekraïne lewer
# AfriForum sê die nuwe Amerikaanse tariewe van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere is die gevolg van die ANC-geleide regering se versuim om aandag te skenk aan menseregtekwessies, veral kwessies wat minderhede raak. Die burgerregte-organisasie gee diskriminerende rassebeleide soos swart ekonomiese bemagtiging die skuld, en noem dit ‘n belangrike knelpunt in Amerikaanse onderhandelinge. Ernst van Zyl van AfriForum sê hy sal aanhou om sy saak by Amerika te beywer om ANC-leiers te teiken en nie gewone Suid-Afrikaners te straf nie:
# Die nuut-aangestelde waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia sê die misbruik van wetstoepassingsmagte is ‘n groeiende bron van kommer. Cachalia het by die Uniegebou in Pretoria beklemtoon dat die polisie binne die wet moet optree wanneer hulle met gewelddadige misdadigers te doen kry. Hy het verwys na voorvalle soos Marikana en Andries Tatane, en gewaarsku teen wetteloosheid. Cachalia het algehele steun aan polisielede beloof terwyl doeltreffende, verantwoordbare en goed-bestuurde wetstoepassings voorkeur geniet om beter uitkomste te verseker:
# Die onderwys-aktivis Hendrick Makaneta vra die regering om kwesbare kinders te beskerm teen moontlike uitsluiting in die 2026-skooljaar. Dit volg nadat Operasie Dudula sy plan aangekondig het om ongedokumenteerde buitelandse kinders te keer om in 2026 openbare skole by te woon. Makaneta sê hierdie optrede is nie net geweldig oneties nie, maar is ook onwettig en teenstrydig met die waardes van die Suid-Afrikaanse Grondwet:
Nuus uit die buiteland:
# Duitsland sal binnekort nog twee Amerikaanse Patriot-lugverdedigingstelsels aan Oekraïne lewer, met Kiëf wat veg teen ‘n groeiende aantal Russiese hommeltuig- en missielaanvalle. Die Duitse ministerie van Verdediging sê nadat ‘n ooreenkoms met die Verenigde State bereik is, sal die Duitse Weermag binnekort bykomende Patriot-lanseerders lewer, en sal verdere toerusting in die volgende twee tot drie maande verskaf. Duitsland het op sy beurt met die Amerikaanse Departement van Verdediging ooreengekom dat hy die eerste land sal wees om versnelde aflewering van nuwe-geslag Patriot-stelsels te ontvang.
# Rugby: Daar is vier nuwe gesigte in Westerlike Provinsie se opdrafspan vir môre se Curriebeker-kragmeting met die Leeus in Johannesburg. In die agterlyn is albei vleuels, Sako Makata en Jared Africa, terug in die beginspan, terwyl die Junior Springbok-ster Gino Cupido op die bank is. Onder die voorspelers begin die voormalige Junior Springbok-kaptein, Zachary Porthen, op vaskopstut en die losvoorspeler Louw Nel beweeg na agsteman, met Gideon van Wyk wat die nommer ses-trui . Afskop is die middag drie-uur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-328-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-303-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….