Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# NotInMyName versoek Gauteng se premier om volle verantwoordelikheid te aanvaar vir die beweerde rassisme by ‘n Pretoriase skool
# Minister Steenhuisen sê landbou kan die stukrag wees vir ekonomiese groei
# En, krieket: Engeland soek na ‘n nuwe witbal-hoofafrigter
# NotInMyName International sê die geskiedenis van Suid-Afrika, deur apartheid en kolonialisme, is steeds diep gesetel in stelsels en instellings in alle sektore. Die sekretaris-generaal van die organisasie, Themba Masango, sê die voorval by die Pretoria High School for Girls moet beskou word as ‘n gebrek aan toesig deur die Gautengse regering en verteenwoordig ‘n regstreekse mislukking deur die voormalige LUR vir Onderwys, Panyaza Lesufi, deesdae die premier van Gauteng:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het op Agri Oos-Kaap se jaarkongres beklemtoon dat dié sektor die stukrag kan wees vir ekonomiese groei in die provinsie. Steenhuisen sê kwessies soos beleids-onsekerheid, plaasmoorde, landelike misdaad en uitdagings met biosekerheid moet egter dringend opgelos word sodat die sektor kan groei. Hy sê landbou lewer ‘n beduidende bydrae tot die land se bruto binnelandse produk, en bied talle geleenthede vir groei, ontwikkeling en werkskepping:
Nog landbounuus: Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika het suurlemoen-uitvoerberamings afwaarts aangepas weens kleiner vrugte weens droogtes, voordelige plaaslike sappryse en gure weer. Die aanvanklike vooruitskatting van 37,9-miljoen 15-kilogram-kartonne is verlaag tot 33,9-miljoen, minder as die 35,6-miljoen in 2023. Die Sondagsriviervallei- en die Wes-Kaap het die grootste afnames gesien weens sterk wind en oorstromings. Die voorsitter van die vereniging se Suurlemoenfokusgroep, Leroux Venter, is bekommerd omdat oorvoorsiening en aanvraag sterk bly, veral in Europa.
# Iran het drie dae van rou afgekondig na die dood van die Hamas-leier, Ismail Haniyeh, in ‘n sluipmoordaanval in Teheran waarvan die aartsvyand, Israel, beskuldig word. Rusland het die moord veroordeel en waarsku dit kan lei tot ‘n nuwe toename in geweld in die Midde-Ooste. Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, het verwys na die verraderlike sluipmoord op sy nabye bondgenoot en broer. Amerika, die Europese Unie en Israel beskou Hamas as ‘n terroriste-organisasie, maar Erdogan beskryf dit as ’n bevrydingsbeweging.
# Krieket: Matthew Mott het bedank as hoofafrigter van Engeland se witbalspan. Engeland kon tydens sy termyn van twee jaar nie daarin slaag om hulle T20- en 50-boulbeurt-Wêreldbekertitels te verdedig nie. Die hulpafrigter, Marcus Trescothick, sal waarneem, met drie T20s en vyf eendagwedstryde wat in September teen Australië gespeel word. Andrew Flintoff, Kumar Sangakkara en die kaptein van die Wêreldbeker-wenspan, Eoin Morgan, is onder die moontlike aansprakers om Mott te vervang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-145-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-418-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….