Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oudminister Zizi Kodwa se korrupsiesaak word uitgestel tot 21 Augustus
# Politieke partye kritiseer die Parlement se tydelike sitting in ‘n markiestent
# En, rugby: Die beseerde Faf de Klerk gaan nie saam Australië toe nie
# Die korrupsiesaak van die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, is in die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Palm Ridge, Gauteng, tot 21 Augustus uitgestel. Kodwa, wat na sy inhegtenisneming bedank het, staan tereg oor bewerings van omkoopgeld ter waarde van 1,6-miljoen-rand, na bevindings in die verslag oor staatskaping. Sy prokureur, Zola Majola, hou vol die staat moet al die aanklagte bo redelike twyfel bewys:
# Politieke partye kritiseer ‘n besluit om die Nasionale Vergadering in die Nieuwmeester-markiestent in Kaapstad te laat vergader. Speaker Thoko Didiza het voorgestel die koepel wat vir die begrafnis van Nelson Mandela benut is, is ideaal. Die IVP-LP, Nhlanhla Hadebe, sê die Parlement kan nie daarop trots wees om in ‘n tent te vergader nie. Intussen sê die DA-LP, George Michalakis, ‘n permanente vergaderplek is nodig:
# Suid-Afrikaanse maatskappye sê hulle het vinnig herstel van die reuse-tegniese onderbreking wat Vrydag deur ‘n foutiewe aanpassing van CrowdStrike veroorsaak is. Capitec, Absa, Safair, Airlink, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die Stad Tshwane het hulle inligtingstegnologie-kwessies opgelos en nie enige finansiële verliese aangemeld nie. Capitec en Absa evalueer toekomstige risiko-verminderingsmaatreëls. Lugdienste wat probleme ervaar het met aanlyn betalings het ook gesê hulle het herstel en daar was nie enige groot uitwerking nie.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het nie die tweemalige Wêreldbeker-wenner-skrumskakel Faf de Klerk by die groep ingesluit wat aan die Australiese skof van die Rugbykampioenskap gaan deelneem nie. Dit is nie bekend wat sy besering is nie, maar hy is op die beseringslys ingesluit saam met Jaden Hendrikse, Herschel Jantjies, Canan Moodie en Steven Kitshoff. Die losvoorspeler Ben-Jason Dickson, wat beïndruk het toe hy teen Portugal die eerste keer in die beginspan was, sê die Bok-kamp is baie verwelkomend:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-611-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-407-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-86-sent per vat.
# En ten slotte: Die Verenigde Nasies waarsku die politieke besluite van vanjaar sal deurslaggewend wees om die teiken van 2030 te haal om VIGS te beëindig as ‘n bedreiging van openbare gesondheid. Hoewel daar verlede jaar afnames was in nuwe besmettings en VIGS-verwante sterftes, maan UNAIDS dis wankelrige vordering. Bykans 40-miljoen mense lewe met MIV en daar was verlede jaar 1,3-miljoen nuwe gevalle. Toegang tot anti-retrovirale medikasie het verbeter, maar UNAIDS vra groter toegang en laer pryse vir medisyne om toekomstige doelwitte te haal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….