Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Progressive Caucus stel sy handves vir die sewende administrasie bekend
# Die EFF sê meer mense is afhanklik van openbare gesondheidsorg-geriewe
# En, die Olimpiese Spele: Groot name is terug op Roland Garros vir die tenniskompetisie
# Die Progressive Caucus, bestaande uit die MK-party, die EFF, ATM en ander kleiner partye, het sy handves vir die sewende Parlement uiteengesit. MK se parlementêre leier, John Hlophe, het aan die media gesê die doel is om Suid-Afrika se demokrasie te versterk en die regering aanspreeklik te hou vir ‘n korrupsievrye samelewing. Hy het ook die stryd beklemtoon vir gratis onderwys, gesondheidsorg, behuising, water en sanitasie:
Die EFF sê intussen die land se gesondheidsorggeriewe is chaoties, met van hulle wat nie voorraad het van basiese benodigdhede soos spuitnaalde nie. Naledi Chirwa van die party beweer sowat 85-persent van die bevolking is afhanklik van swak-befondsde openbare gesondheidsgeriewe, waar mense waarskynlik nie medikasie sal kry nie. Chirwa sê dit gebeur terwyl die oorblywende 15-persent, hoofsaaklik witmense, toegang het tot privaat gesondheidsorg wat voldoende presteer:
# Die minister van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, gaan voorstel dat die nasionale regering rampbestuurstoelaes aan munisipaliteite toestaan om natuurrampe te hanteer. Dit volg na die onlangse veldbrande in KwaZulu-Natal wat 14 lewens geëis en honderde huise vernietig het. Die provinsie het nie genoeg geld om sulke rampe te hanteer nie. Hlabisa beoog om die Nasionale Tesourie te nader en beywer hom spesifiek vir ‘n voorwaardelike toelaag vir rampverwante uitgawes, om te verseker plaaslike owerhede het die nodige bronne om die uitwerking van natuurrampe doeltreffend te bestuur.
# Olimpiese Spele: Die meeste van die groot name is op Roland Garros wanneer die tennis-kompetisie volgende Saterdag in Parys afskop. Die dubbelspel vir mans het groot kanonne soos Rafael Nadal en Carlos Alcaraz vir Spanje, en die wêreld nommer een, Jannik Sinner, en Lorenzo Musetti vir Italië. Onder die vroue is die Wimbledon- en Franse Ope-finalis, Jasmine Paolini, saam met die veteraan Sara Errani vir Italië, die Wimbledon-kampioen, Barbora Krejčíková, en Katerina Siniakova vir die Tsjeggiese Republiek, en Coco Gauff en Jessica Pegula vir Amerika.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-780-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-465-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-86-sent per vat.
# Ten slotte: Die Kaapstadse stadsaal hou ter viering van Nelson Mandela-dag ‘n deurloop-tentoonstelling wat sy lewe uitbeeld van sy jeug tot op Robbeneiland. Die uitstalling eer ook ikone van Suid-Afrika se pad van apartheid na demokrasie. Die Kaapstadse stadsaal, waar Mandela sy eerste toespraak gelewer het nadat hy vrygelaat is, het geskiedkundige waarde. Die uitstalling val saam met vanaand se Parlementsopening. Die Nelson Mandela-museum in die Oos-Kaap gaan intussen die kerk opknap waar Mandela en Winnie Madikizela-Mandela getroud is, asook ‘n plaaslike vroeëkinder-ontwikkelingsentrum vernuwe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….