Nuus 16:00
BULLETIN 31 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die terugkoopkoers word met 25 basispunte verlaag
# Die DA sê die Stad Johannesburg stort in duie voor die belangrike G20-sperdatum
# En tennis: Tsitsipas se pa is terug as sy afrigter
# ‘n Bietjie goeie nuus vir Suid-Afrikaners met skuld. Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het die terugkoopkoers met 25 basispunte verlaag. Dit beteken banke se prima-uitleenkoers verlaag môre tot 10,5-persent.
# Die Afrika-kontinentale Vryhandelsgebied kan help om handel uit te brei en ontluikende ekonomieë teen globale onsekerheid te beskerm. Die streeks-koördinerings- en programdirekteur, Tsotetsi Makong, het op die Handel- en Nywerheidsbeleid-strategieforum verwys na die 3,6-miljard-rand se verlies wat Lesotho as gevolg van die Amerikaanse invoertariewe van 50-persent gely het. Hy het Afrika-lande aangemoedig om handel deur die vasteland te bevorder deur plaaslik-vervaardigde produkte te gebruik:
# Die DA het ‘n waarskuwing gerig oor die voortgesette ineenstorting van die Stad Johannesburg en waarsku daar is min verbeterings aangebring voor die G20-beraad in November. Die party sê inwoners worstel steeds met droë krane, gevaarlike strate en mislukte infrastruktuur, sonder sigbare bewyse van die sogenaamde ‘bomb squad’ en die presidensiële werkgroep. Die DA-lid, Solly Msimanga, sê die stad kan nie vertragings of geheimsinnige besteding bekostig terwyl basiese dienste steeds nie gelewer word nie:
# Die skepper van “Please Call Me”, Nkosana Makate, sê hy is vol vertroue die Appèlhof sal Vodacom dwing om hom 9,4-miljard-rand se vergoeding te betaal. Makate het Vodacom se vroeëre aanbod van 47-miljoen-rand verwerp. Die Konstitusionele Hof het Vodacom nou verlof tot appèl toegestaan en kritiseer die Appèlhof omdat hulle bewyse geïgnoreer en regsreëls verontagsaam het in hul vorige hantering van die saak. Makate sê die appèl sal nou tot die volgende besluit lei:
# Tennis: Die Griekse speler Stefanos Tsitsipas se pa, Apostolos, is terug as sy afrigter nadat hy sy kortstondinge vennootskap met die voormalige wêreld-nommer-twee, Goran Ivanisevic van Kroasië, beeïndig het. Die 26-jarige Tsitsipas het in Augustus 2021 sy hoogste wêreldranglys-posisie van derde bereik, maar sedertdien teruggesak na 30ste. Hy het sy pa verlede jaar afgedank. Ivanisevic, wat Wimbledon in 2001 gewen het, het Tsitsipas gekritiseer nadat hy vanjaar in die eerste ronde verloor het, en sê hy het nog nooit ‘n speler gesien wat so onvoorbereid is nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-465-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-305-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: Forbes se vyfde jaarlikse 50-bo-50-lys plaas die kollig op baanbreker-vroue wat weier om te aanvaar hul beste jare is verby. Vanjaar se lys is in vier breë kategorieë verdeel: invloed, vernuwing, belegging en leefstyl. Die lys sluit in die aktrise Halle Berry, wat op vrouegesondheid fokus; die stigter van die Vroue Alzheimer-beweging, Maria Shriver; en Krystal Biotech se medestigter, Suma Krishnan, wat oplossings vir siektes ontwikkel. Van die ander bekendes op die lys is Meals on Wheels se hoof, Ellie Hollander, en die aktivis Monica Lewinsky.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….