Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Universiteit van Johannesburg skors 50 students
# BOSA vra die omvattende opknapping van die onderwysstelsel
# En, rugby: Salmaan Moerat voer ‘n Bok-span aan met sewe nuwelinge
# Die Universiteit van Johannesburg het 50 studente vir tussen een en twee jaar geskors. Die Departement van Studenteregsdienste het gevind 25 studente het vervalste mediese sertifikate ingedien terwyl die ander 25 skuldig was aan verskeie oortredings, insluitend plagiaat en bedrog. Woordvoerder Herman Esterhuizen sê sulke wangedrag verteenwoordig ‘n klein gedeelte van alle studente en die universiteit handhaaf streng etiese standaarde. Die adjunkminister van Hoёr Onderwys, Mimmy Gondwe, loof U-J se optrede en wys op die belangrikheid om die integriteit en geloofwaardigheid van die Suid-Afrikaanse hoёr-onderwysstelsel te handhaaf.
# Build One South Africa vra ‘n omvattende opknapping van die onderwysstelsel. Die party beywer hom vir ‘n enkele, verenigde stelsel wat alle leerders eenders bedien. BOSA se leier, Mmusi Maimane, het in ‘n parlementêre debat oor Basiese Onderwys se begroting gesê die dubbele onderwysstelsel hou ongelykheid lewend. Hy stel voor dat die slaagsyfer van 30-persent laat vaar word, ‘n onderwys-ombud gevestig word, befondsing vir digitale onderrig verhoog word, en vakbonde se invloed aandag kry:
# Die Suid-Afrikaanse lugredery, Airlink, sal van 7 Augustus af sy vlugte tussen Durban en Harare vermeerder na ‘n daaglikse skedule. In die verlede was daar ses dae ‘n week vlugte en die nuwe skedule vul die gaping op Woensdae. Uitvoerende hoof Rodger Foster sê reisiger-versoeke het die verandering genoop, wat sake, handel en toerisme wil bevorder. Hy sê die vlugte bied gerieflike verbindings met Airlink se streeks- en globale vennote, wat die ekonomiese mededingendheid van albei stede verbeter.
# Rugby: Salmaan Moerat gaan die Springbokke die eerste keer aanvoer wanneer hy Saterdag ‘n groep met sewe nuwelinge in die heel eerste toets teen Portugal in Bloemfontein lei. Die nuwelinge in die opdrafspan is die voormalige kaptein van die Junior Springbokke, Phepsi Buthelezi op flank, Johan Grobbelaar op haker en Jan-Hendrik Wessels langs hom op stut. André-Hugo Venter, Ruan Venter, Morné van den Berg en Quan Horn kan hulle toetsdebuut van die bank af maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-547-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-442-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-50-sent per vat.
# Ten slotte: Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gaan Donderdag die 15de bestaansjaar van Internasionale Nelson Mandela-dag amptelik herdenk. Wyle oudpresident Nelson Mandela se nalatenskap sal vereer word onder die tema ‘Dit is steeds in ons hande om armoede en ongelykheid te bekamp.’ Die president van die Algemene Vergadering, Dennis Francis, het klem gelê op Mandela se siening van armoede as ’n onreg. Die adjunk-sekretaris-generaal, Amina Mohammed, het die raad aangemoedig om Mandela se voorbeeld te volg om armoede te beëindig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….