Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Beroep dat voorkeur gegee word aan maatskaplike sekerheid tydens die komende kabinetslekgotla
# Saftu bepleit regstellende beleid ter wille van geskiedkundige ongelykhede
# En, rugby: Twee Franse spelers is aangekeer vir beweerde seksuele aanranding in Argentinië
# Vennote in die regering van nasionale eenheid bepleit voorkeur aan maatskaplike sekerheid tydens die komende kabinetslekgotla. Die UDM, PAC en die Good Party is onder die partye wat die beroep gedoen het. Die lekgotla is die eerste van sy aard in drie dekades waartydens die nasionale beleid vir die volgende vyf jaar bepaal gaan word. Yongama Zigebe van die UDM sê die lekgotla moet daarop gemik wees om die kwesbaarste mense in die gemeenskap te beskerm:
# Die vakbondfederasie Saftu bepleit regstellende beleide om geskiedkundige ongelykhede uit die weg te ruim na die uitreiking van die 24ste jaarlikse verslag van die Kommissie vir Indiensnemingsgelykheid. Die verslag wys op die onderverteenwoordiging van swartmense en vroue in die top en senior bestuursposte. Die verslag toon 62,1-persent van topbestuurders is wit met swartes net 17,2-persent. Woordvoerder Trevor Shaku benadruk hoewel indiensnemingsgelykheid van krag is, moet meer gedoen word:
# Die Suid-Koreaanse tegnologiereus Samsung sê produksie is nie ontwrig nie ten spyte van ‘n drie-dae lange staking deur duisende werkers. Meer as vyf-duisend lede van die National Samsung Electronics Union het gister ophou werk as deel van ‘n voortgesette stryd oor salarisse en byvoordele. Die vakbond het meer as 30-duisend lede, en verteenwoordig meer as ‘n vyfde van die maatskappy se totale werksmag.
# Rugby: Twee lede van Frankryk se nasionale span is in Argentinië in hegtenis geneem weens beweerde seksuele aanranding. Hugo Auradou en Oscar Jegou, wat die Hane Saterdag gehelp het om Los Pumas 28-13 te verslaan, is in Buenos Aires aangekeer en sal na Mendoza geneem word waar die beweerde misdaad plaasgevind het. Dit volg ‘n dag nadat ‘n rassisme-skandaal daartoe gelei het dat die Franse heelagter Melvyn Jaminet teruggestuur is huis toe. Dit het gevolg op ‘n video op sosiale media waarin hy rassistiese opmerkings maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-490-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-359-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-36-sent per vat.
# Ten slotte: Julie-Spaarmaand is ‘n unieke geleentheid vir slim spaarders om hoër rentekoerse te benut. Die uitvoerende hoof van FNB Kontantbeleggings, Himal Parbhoo, beveel strategiese spaarbeplanning aan, ondanks moontlike nadele soos beperkte verbruikersbesteding. Hy het die belangrikheid beklemtoon om likiditeit te balanseer met langtermyngroei deur ‘n verskeidenheid portefeuljes. Moontlikhede soos spaarrekeninge vir noodgevalle en hoër-opbrengs fleksie-kennisgewing- en vaste deposito-rekeninge kan in verskillende behoeftes voorsien. Parbhoo vra Suid-Afrikaners om spaarstrategieë te heroorweeg vir veerkragtigheid in onsekere ekonomiese tye.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….