Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# Minister Creecy sê die vervoersektor sal rewolusionêr verander deur die versnelling van digitale tegnologie
# Ekurhuleni vra inwoners om nie die vroeë simptome van A-pokke te ignoreer nie
# En, tennis: Wimbledon se vroueafdeling kan enigiets oplewer nadat top-twee uitgeskakel is
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die vervoersektor sal in die volgende dekade rewolusionêr verander deur ‘n versnelling in digitale tegnologie en nuwe uitvindings aangevuur deur hernubare energie. Creecy het gepraat op die Suider-Afrika Vervoerkonferensie in Pretoria. Sy sê New York het aangekondig verkope van byna alle petrol- en diesel-aangedrewe motors en vragmotors in die staat sal teen 2035 verbied wees:
# Die Stad Ekurhuleni sê hy is op hoë gereedheid nadat A-pokke in die land gediagnoseer is. Die Departement van Gesondheid het sedert Mei drie sterftes en 20 gevalle aangeteken, waarvan 15 mense reeds herstel het en vyf nog hospitaalbehandeling ontvang. Die stad se woordvoerder, Zweli Dlamini, sê inwoners word versoek om onmiddellik ‘n dokter te besoek sodra hulle enige simptome van A-pokke opmerk of in aanraking was met iemand wat dit het:
# Die Gautengse LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het ‘n aansienlike afname aangekondig in mediese regs-eise teen die departement. Dit het voorheen omtrent 30-miljard-rand beloop, teruggedateer tot 2003. Nkomo-Ralehoko skryf die afname toe aan suksesvolle bemiddelings- en onderhandelingspogings. Sy het op eNCA beklemtoon die prestasie bewys die departement se toewyding tot finansiële volhoubaarheid en verbeterde gesondheidsorglewering.
# Orkaan Beryl het vandag land bereik in die suidelike Amerikaanse staat, Texas, waar sommige inwoners ontruim is weens waarskuwings van vloede en kragonderbrekings. Die Amerikaanse Nasionale Stormsentrum sê Beryl het die dorp Matagorda bereik met windsnelhede van 130 kilometer per uur. Die Nasionale Weerdiens het ‘n tornado-waarskuwing uitgereik vir dele van Texas, insluitend Houston, die tuiste van 2,3-miljoen inwoners.
# Tennis: Wimbledon se vroue-afdeling kan enigiets oplewer nadat die voorste twee gekeurde spelers die naweek uitgeskakel is, naamlik die wêreld nommer een, Iga Swiatek van Pole, en nommer twee, Coco Gauff van Amerika. Slegs twee van die top-tien is oor – die vierde gekeurde Elena Rybakina van Kazakstan en die sewende gekeurde Jasmine (Jazz-mien) Paolini van Italië. Die plaaslike gunsteling, Emma Raducano, het ook verloor. Die 19de gekeurde Amerikaner Emma Navarro lyk gevaarlik nadat sy met Gauff sowel as die viermalige Grand Slam-kampioen, Naomi Osaka van Japan, afgereken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-62-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-375-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus ………