Nuus 16:00
BULLETIN 30 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party waarsku burgers is moeg vir duur kommissies sonder uitkomste
# Nog twee mense word aangekeer vir die moord op ‘n DA-raadslid Nhlalayenza in KwaZulu-Natal in 2023
# En fietsry: Die Tour de France-kampioen onttrek aan ‘n wedren in Spanje
# Die MK-party sê burgers is moeg vir duur kommissies van ondersoek wat geen betekenisvolle uitkomste lewer nie en vertroue in die regering skend. Dit volg nadat die Madlanga-kommissie gestig is om bewerings te ondersoek wat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi geopper het oor misdaad, politieke inmenging en korrupsie binne die polisie. MK se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, het aan die Konstitusionele Hof gesê vorige ondersoeke, soos die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, het miljarde rand gekos en min het verander:
Die taakspan vir politieke moorde in KwaZulu-Natal het intussen nog twee mense in hegtenis geneem in verband met die moord op die DA-raadslid Nhlalayenza Ndlovu in 2023. Hulle is ‘n 56-jarige hoofman en die 26-jarige vermeende meesterbrein wat die aanval vanuit die tronk gekoördineer het. Ndlovu is doodgeskiet in sy huis in die omgewing van Mpophomeni in Howick. Polisie-woordvoerder Athlenda Mathe sê die twee sal môre saam met twee ander beskuldigdes in die plaaslike Landdroshof verskyn:
# Limpopo se voormalige LUR vir Veiligheid en Sekerheid, die verbanne senior advokaat Seth Nthai, het skuldig gepleit op ‘n aanklag van korrupsie. Hy het erken dat hy vyf-miljoen-rand se omkoopgeld van ‘n Italiaanse sakeman probeer bekom het terwyl hy die Suid-Afrikaanse regering in ‘n myn-regsgeding verteenwoordig het. Sy naam is in 2013 van die advokate-rol verwyder. Nthai het ‘n pleitooreenkoms met die staat gesluit en is gevonnis tot ‘n boete van 500-duisend-rand of twee jaar tronkstraf. Die saak het gevolg op klagtes wat in 2022 aanhangig gemaak is.
Nuus uit die buiteland:
# Die Turkse onderneming Karpowership brei uit na drywende datasentrums om te voldoen aan die stygende kunsmatige intelligensie-gedrewe vraag. Die Kinetika-eenheid beoog om landelike bouvertragings te omseil deur die sentrums in skeepswerwe te bou. ‘n Aanvanklike projek van 73-megawatt saam met Mitsui OSK Lines van Japan is vir 2027 geskeduleer. Die onderneming sê as seewater vir verkoeling gebruik word sal hierdie drywende spilpunte meer energie-doeltreffend wees. Kinetika sal eers op Amerika, die Europese Unie en Australië fokus, met planne om later na opkomende markte uit te brei.
# Fietsry: Die viermalige Tour de France-wenner, Tadej Pogačar, gaan vanjaar se Vuelta a España in Spanje misloop omdat hy wil rus en voorberei om sy Wêreldkampioenskaps-titel vir padwedrenne te verdedig. Die 26-jarige Sloween het Sondag sy vierde Tour-titel opgeraap. Die Vuelta is die enigste een van die drie Grand Tours wat Pogačar nog nie gewen het nie. Hy beplan om middel-September weer mee te ding in die Kanadese eendagwedrenne in Quebec en Montreal voordat die Wêreldkampioenskap ‘n week later in Rwanda begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-726-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-330-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….