Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die FW de Klerk-stigting is oortuig dat die regering van nasionale eenheid deursigtige regering sal verbeter
# Die Padvragvereniging versoek minister Creecy om nie-voldoening te ondersoek
# En, tennis: Andy Murray onttrek aan Wimbledon se enkelspel
# Die FW de Klerk-stigting het volle vertroue in die nuutaangestelde uitvoerende gesag van die regering van nasionale eenheid, en wys daarop dis moontlik om deursigtige regering en aanspreeklikheid te bevorder. President Cyril Ramaphosa het 32 ministers aangekondig – 20 van die ANC, ses van die DA en die res van kleiner koalisievennote. Die uitvoerende direkteur, Christo van der Rheede, sê die samewerkende kabinet is verbind om aandag te gee aan die behoeftes van Suid-Afrikaners. Die stigting ondersteun die vordering van die nuwe regering en loof die uiteenlopende verteenwoordiging en gedeelde sleutel-ministeries.
Die uitvoerende hoof van die Padvragvereniging, Gavin Kelly, versoek intussen die nuwe minister van Vervoer, Barbara Creecy, om die kwessie van nie-voldoening in die vervoersektor aan te pak. Volgens Kelly is die vervoersektor by ‘n krisispunt ten opsigte van verskeie aspekte van vervoer, van vrag sowel as passasiers. Hy sê die bande met die globale mark is by so ‘n breekpunt wat dit onontbeerlik maak om ‘n soliede, verligte en positiewe leierskap te hê:
# Kliënte van Standard Bank het beweerde reuse sekerheidsoortredings op sosiale media aangemeld. Talle kliënte het bedrieglike transaksies en vermiste fondse uitgewys. Baie kliënte sê hulle kan nie hul kaarte deur die toepassing blokkeer nie, hul kla hulle moet lank aanhou by inbelsentrums en oor die onvermoë om die bedrog-blitslyn te bereik. Dit is nog onduidelik wat die sekerheidsbreuk veroorsaak het. Standard Bank het die afgelope paar jaar verskeie stelselonderbrekings ervaar, wat gelei het tot leierskapveranderings om inligtingstegnologie-bestendigheid en bedrywighede te verbeter.
# Tennis: Andy Murray het besluit om nie aan Wimbledon se enkelspel deel te neem nie en sal saam met sy ouer broer, Jamie, aan die dubbelspel deelneem in sy afskeidstoernooi. Die 37-jarige voormalige wêreld nommer een wou graag fiks wees na ‘n onlangse operasie om ‘n sist aan sy ruggraat te verwyder, maar besef dit sal bykans onmoontlik wees om vir oulaas aan die grasbaan Grand Slam-toernooi se enkelspel deel te neem. Murray het vroeër aangekondig hy gaan uittree na die tenniskompetisie op die Olimpiese Spele in Parys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-702-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-321-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-25-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad het kommer uitgespreek oor die aantal oproepe oor aanrandings wat die openbare noodkommunikasiesentrum ontvang. Die sentrum het net die afgelope naweek een-duisend-761 oproepe om hulp ontvang, wat 175 gevalle van aanranding insluit. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê huishoudelike geweld wek ook kommer nadat 51 oproepe hiervoor aangeteken is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….