Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# Steinhoff se voormalige finansiële hoof is vrygelaat op borgtog van R150-duisend
# Solidariteit vra vir ekonomiese fokus van die regering van nasionale eenheid
# En, swem: Phelps, Schmitt vra vir die hervorming van Wada
# Steinhoff se voormalige finansiële hoof, Ben la Grange, is op borgtog van 150-duisend-rand vrygelaat. Hy het in die Handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn ná sy betrokkenheid by die Steinhoff-skandaal. News24 berig La Grange, wat gekoppel word aan Steinhoff se ontslape uitvoerende hoof, Markus Jooste, staan tereg op aanklagte van onder meer rampokkery, bedrog, korrupsie en oortreding van die Wet op Finansiële Markte. La Grange en sy medebeskuldigde, Stéhan Grobler, keer op 4 Oktober terug hof toe.
# Die Solidariteit Navorsingsinstituut vra die regering van nasionale eenheid om ekonomiese groei voorop te stel. ‘n Woordvoerder van Solidariteit, Connie Mulder, beklemtoon die behoefte aan ‘n koalisie om te goeder trou die lewens van alle Suid-Afrikaners te verbeter. Mulder het aan die SABC gesê die sukses van die koalisie sal bepaal word deur sy verbintenis om die mense tot diens te wees:
# Die uitvoerende hoof van Future Forex, Harry Scherzer, sê die daling in indiensneming soos weerspieël in die jongste kwartaallikse syfers, behoort nuwe stukrag te verleen aan die ondertekenaars van die regering van nasionale eenheid om hulle verskille opsy te skuif en saam te werk tot voordeel van die land. Volgens Scherzer is die feit dat die daling in indiensneming saamval met die verbetering van beurtkrag, bewys Suid-Afrika moet meer doen om die basiese dinge reg te kry:
# Begunstigdes van SASSA-toelaes in die landelike Oos-Kaap vra vir die terugkeer van plaaslike betaalpunte. Die sluiting van hierdie betaalpunte het talle sonder maklike toegang gelaat om hulle toelaes te bekom sodat hulle geld moet bestee om na nabygeleë dorpe te reis of van familielede afhanklik is om geld te onttrek. SASSA het die betaalpunte gesluit weens die dalende aantal gebruikers en om sekerheid te verbeter. Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, sê hulle is in gesprek met diensverskaffers om die aangeleentheid op te los:
# Swem: Die Olimpiese swem-ikoon Michael Phelps en die viermalige goue-medaljewenner Allison Schmitt het die internasionale agentskap teen verbode middels, Wada, gevra vir hervorming weens sy hantering van die 2021-skandaal oor Chinese swemmers en verbode middels. Hulle het Wada gestriem oor die jongste onthulling oor 23 Chinese swemmers wat positief getoets het vir verbode hartmedikasie. Nie een van is geskors of gestraf nadat Wada China se verduideliking aanvaar het wat die toetsuitslae aan voedselbesmetting toegeskryf het. Phelps en Schmitt sê atlete se vertroue in Wada is geskaad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-365-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-315-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….