Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gaan voor die nasionale dialoog in gesprek tree met tradisonele leiers
# Saftu ondersteun Taswu se staking teen die afleggings by Grindrod
# En, rugby: Rassie Erasmus kondig ‘n groep van 39 spelers aan vir die toetse teen Ierland en Portugal
# Die ANC het planne aangekondig om deurlopende samesprekings met Kontralesa te voer, met die fokus op tradisionele leiers se rolle in die regering van nasionale eenheid, voor ‘n nasionale dialoog. Die dialoog het ten doel om ‘n nasionale maatskaplike kontrak te vestig wat in lyn is met die Nasionale Ontwikkelingsplan. Tien politieke partye, insluitend die ANC en DA, het ‘n verklaring van voorneme vir die dialoog onderteken. Kontralesa het sy verbintenis bevestig om die ANC se pogings om dit te stig, te ondersteun.
# Die vakbondfederasie, Saftu, sê hy ondersteun sy geaffilieerde, Tirisano Vervoer en Dienstevakbond se staking by Grindrod Logistics Ltd. Hulle betoog teen die aflegging en afdanking van meer as 85 werkers. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê ten spyte van beweerde finansiële probleme, het Grindrod in die 2023-boekjaar ‘n winstoename van 16-persent teenoor die vorige jaar getoon:
# Die raad van die Universiteit van Kaapstad vra vir ‘n onmiddellike wapenstilstand in Gaza, vir humanitêre hulp om deurgelaat te word, en die vrylating van alle gevangenes. Hy veroordeel die vernietiging van Gaza se onderwyssektor en die moord op onderwysers en universiteitspersoneel. Die raad doen ‘n beroep op die internasionale gemeenskap om die herstel van onderwys by die humanitêre hulp in te sluit en verwerp die gelykstelling van kritiek op Israel met anti-Semitisme. Die universiteit het solidariteit met Gaza-akademici uitgespreek en is daartoe verbind om te help met die herbou van die akademiese sektor.
Die Kaapse Raad van die Suid-Afrikaanse Sioniste-federasie veroordeel intussen die Universiteit van Kaapstad se onlangse besluit om ‘n boikot van Israeliese akademiese instellings gekoppel aan die Israeliese weermag, te onderskryf. Hulle voer aan hierdie stap ondermyn akademiese vryheid, globale samewerking en die universiteit se finansiële bestendigheid. David Cohen van die raad waarsku, die boikot bevorder ‘n vyandige omgewing vir Joodse studente en personeel, verhoog anti-Semitisme en stel internasionale befondsing en navorsingsgeleenthede in gevaar.
# Rugby: Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het ‘n sterk groep van 39 spelers aangewys asook ‘n bykomende 14 spelers is op ‘n bystandslys vir die toetse teen Ierland en Portugal. Nege spelers wat nie beskikbaar was vir die toets teen Wallis nie en drie nuwelinge is ingesluit. Die drie nuwelinge is die haker en stut van die Bulle, Johan Grobbelaar en Jan-Hendrik Wessels en Haaie-losvoorspeler Phepsi Buthelezi. Cheslin Kolbe en Lukhanyo Am is terug na beserings. Handré Pollard, Jasper Wiese, Siya Kolisi, RG Snyman, Marco van Staden, Kurt-Lee Arendse en Willie le Roux is ook terug.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-190-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….