Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n OVK-kommissaris verskyn in die hof op bedrogklagte
# ‘n Studie bevind Suid-Afrikaanse verbruikers is optimisties oor hulle geldsake
# En, krieket: Die Proteas pak Engeland in ‘n Super Agt-wedstryd van die T20 Wêreldbeker
# Die bedrog- en korrupsieverhoor van die Verkiesingskommissie se kommissaris, Nomsa Masuku, is geskeduleer vir 4 September. Masuku, wat aangekla word van bedrog ten bedrae van 1,2-miljoen-rand tydens haar termyn by Standard Bank, het na bewering fondse wat vir beurse geoormerk was, wanbestee deur dit aan vriende en familie toe te ken. Die Valke se woordvoerder, Katlego Mogale, sê Masuku het vroeër vandag in die Handelsmisdaadhof in Palm Ridge verskyn en is borgtog van 20-duisend-rand toegestaan:
# Suid-Afrikaanse verbruikers is optimisties oor hulle geldsake met 72-persent wat verwag hulle inkomste gaan oor die volgende jaar styg. Volgens die Verbruikerspols-studie van TransUnion bly inflasie ‘n belangrike kwelpunt vir 77-persent van die deelnemers, naas rentekoerse op 55-persent en werksekerheid op 52-persent. Hoewel 71-persent optimisties is oor huishoudelike finansies, verwag 38-persent moeilike tye om skuld te betaal. Finansiële druk beïnvloed jou vermoë om te bestee en 38-persent beplan om meer geld te gebruik vir rekenings en lenings. Die studie toon daar is versigtige optimisme te midde van voortgesette ekonomiese uitdagings.
# Die Hooggeregshof in Windhoek, Namibië het die land se koloniale era-wette wat selfdegeslagverhoudings kriminaliseer, geskrap in ‘n uitspraak wat regtegroepe as “geskiedkundig” beskou. Die hof het die misdade van “sodomie” en “onnatuurlike seksuele misdrywe” as “ongrondwetlik en ongeldig” verklaar in sy uitspraak oor die saak wat ‘n plaaslike LGBTQ-aktivis aanhangig gemaak het. Die uitspraak vernietig wette wat selde afgedwing word en dateer uit 1927. Namibië het die wette geërf vanaf die koloniale era, maar steeds gehandhaaf nadat hy in 1990 onafhanklikheid van Suid-Afrika verkry het.
# Stellenbosch Universiteit het die Mariner 4.0-toepassing bekendgestel, ‘n rewolusionêre stelsel wat seevaarders help teen bewegingsiekte. Die stelsel monitor bewegingsiekte intyds en verminder die voorkoms en die erns van die simptome. Die navorser by die universiteit, Nicole Taylor, sê die toepassing is aan boord die SA Agulhas twee ingespan, versamel data met individuele ervarings en verskaf waardevolle insig vir die beplanning van vaarte en skeepsontwerp:
# Krieket: Die Proteas speel vanmiddag teen Engeland in St Lucia in die tweede van hul Super-agt-wedstryde van die T20 Wêreldbeker. Ná vier senutergende oorwinnings kan die Suid-Afrikaanse ondersteuners sekerlik uitsien na verdere drama. Wedstryde in St Lucia is bekend vir hoë tellings. Engeland het suksesvol ‘n teiken van 181 teen die Wes-Indiese Eilande gejaag, Australië het 181 teen Skotland gejaag, en beide Sri Lanka en die Wes-Indiese Eilande het onderskeidelik meer as 200 teen Nederland en Afghanistan aangeteken. Die wedstryd begin om halfvyf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-678-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-364-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….