Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bevestig sy verbintenis tot ‘n nie-rassige en nie-seksistiese Suid-Afrika
# Die president sê ook ekonomiese groei en werkskepping is sleutel-voorkeure vir die nuwe administrasie
# En, rugby: Evan Roos verwag ‘n fisiese stryd teen Wallis
# President Cyril Ramaphosa het onderneem om Suid-Afrika nie-rassig, nie-seksistiese en welvarend te maak. Tydens sy inhuldiging het hy alle politieke leiers aangemoedig om saam te werk om inklusiwiteit en voorspoed te bevorder, en om gelyke geleenthede vir almal te verseker. Ramaphosa het die land se veerkragtigheid geprys en die verkiesingsuitslae aanvaar as ‘n weerspieëling van mense se behoefte aan vrede en vooruitgang:
Ramaphosa sê ekonomiese groei en werkskepping is top voorkeure vir sy nuwe administrasie. Hy vra eenheid en samewerking ongeag politieke verskille om ongelykheid te pak. Sleutel-fokuspunte sluit in die vermindering van werkloosheid en die verligting van armoede. Ramaphosa sê die regering sal belê in onderwys, gesondheidsorg en maatskaplike samebinding terwyl hy misdaad en korrupsie takel:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het ‘n finale uitsettingsbevel vir verskeie onwettig besette persele in Kaapstad se sakekern toegestaan. Die uitsetting teiken brandpunte soos Buitengrachtstraat en Helen Suzman-boulevard. Die stad het herhaaldelik maatskaplike bystand aangebied, insluitend skuiling- en herintegrasiedienste, en die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, beklemtoon weer openbare ruimtes kan nie gereserveer word vir mense wat hulp weier nie. Die stad brei sy Veilige Ruimte-geriewe uit, met die doel om openbare gebiede te herstel en volhoubare ondersteuning aan haweloses te bied.
# Rugby: Die Springbok-agsteman, Evan Roos, verwag Saterdag ‘n fisiese stryd teen Wallis wanneer die span hulle internasionale seisoen vir 2024 op Twickenham afskop. Dit is Roos se sesde toets. Hy sê die Walliesers het dieselfde houding as die Springbokke in hulle benadering tot toetsrugby. Die Springbokke het gister vir oulaas in Pretoria geoefen met die toergroep van 30 spelers wat deur die afrigter, Rassie Erasmus, aangewys is, wat vanaand na Londen vertrek.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-76-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-329-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-42-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Aktiviste wil hê albinisme moet as ‘n gestremdheid erken word weens kwesbaarhede soos siggestremdheid en velkanker. Sprekers het tydens ‘n tweedaagse simposium die ongelyke behandeling van individue met albinisme uitgewys, soos die weiering van ongeskiktheidstoelae, maar word tog as gestremd beskou vir rybewyse. Hulle versoek die Sentrum vir Menseregte aan die Universiteit van Pretoria om die regering verantwoordbaar te hou vir wetgewing wat albinisme as ‘n gestremdheid beskou en gelyke toegang tot onderwys, indiensneming en gesondheidsorg verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….