Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die AA voorsien ‘n positiewe vooruitsig vir die meeste brandstofpryse
# Minister verwelkom die ondertekening van die Wetsontwerp op die Ekonomiese Regulering van Vervoer
# En, rugby: Loftus maak gereed vir die Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd tussen die Bulle en Glasgow Warriors
# Die Automobiel-Assosiasie voorsien aanstaande maand ‘n positiewe vooruitsig vir brandstofpryse gebaseer op data van die Sentrale Energiefonds. Die prys van 93-oktaan petrol sal na verwagting die grootste daling toon van een-rand-15-sent per liter, met die prys van 95-oktaan teen ongeveer een-rand-tien-sent per liter. Die woordvoerder van die assosiasie, Eleanor Mavimbela, sê die pryse van diesel kan met 55-sent per liter daal en die pryse van lampolie met nagenoeg 45-sent per liter:
# Die minister van Vervoer Sindisiwe Chikunga verwelkom president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Wetsontwerp op Ekonomiese Regulering van Vervoer. Die woordvoerder van die Departement Collen Msibi sê dit sal toesig hou oor pryse, klagtes ondersoek en voldoening afdwing vir ‘n regverdige en mededingende vervoerbedryf. Msibi sê die Raad op Ekonomiese Vervoer sal ‘n appèlliggaam wees oor besluite van die Reguleerder:
# Die 1000-vrouetrust het ‘n nasionale Van-Omstander-na-Opstander-kompetisie ingestel. Die handelsmerkbestuurder Adrie Jurgensen sê hulle wil leerders in Suid-Afrikaanse skole mobiliseer teen boeliegedrag. Jurgensen sê hulle versprei 20-duisend pamflette in skole met uitnodigings om deel te neem aan die kompetisie en hoe opgetree kan word wanneer kinders in skole afgeknou word:
# Die hoogste hof in Sri Lanka het ‘n regeringswetsontwerp oor geslagsgelykheid afgeskiet, omdat hy reken dit kan ‘n wettige presedent skep vir die dekriminalisering van homoseksualiteit en selfdegeslaghuwelike. Die Hooggeregshof se regsbank, met drie regters, het beslis die wetsontwerp, wat gemik is op die bekamping van seksisme en geweld, ondermyn konserwatiewe waardes op die eiland. Die hof het gesê die erkenning van persone met verskillende geslagsidentiteite is ook ‘n oortreding van die grondwet.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd tussen die Bulle en Glasgow Warriors op Loftus skop Saterdagmiddag sesuur af. Dit word voorafgegaan deur ‘n regstreekse TV-uitsending van die Springbokke se wedstryd teen Wallis op Twickenham. Die VRK-eindstryd is tussen spanne wat nie die gunstelinge in hul onderskeie halfeindstryde was nie. Die Bulle het met Leinster afgereken terwyl die Warriors die verdedigende kampioene, Munster, afgeransel het. Dis die Bulle se tweede VRK-eindstryd in drie seisoene en die eerste tuis. Dit ook die manne van Skotland se eerste sedert 2019.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-143-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….