Nuus 16:00
BULLETIN 6 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming skets vyf belangrike punte vir Suid-Afrika se nuwe regering
# Minstens 37 mense sterf in ‘n Israelse aanval op ‘n Verenigde Nasies-bestuurde skool
# En, tennis: Zverev sê hy wil sy eerste Grand Slam-titel verower
# Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming het vyf belangrike punte vir Suid-Afrika se nuwe regering uiteengesit. Dit beklemtoon die herorganisering van die staat, met besnoeiing van die kabinet en aanstelling van bevoegde amptenare, om groei aan te vuur met bevryding van markte en openbare-privaat vennootskappe. Ander belangrike punte sluit in die bevordering van massa-insluiting met aanmoediging van laaggeskoolde indiensneming en die versterking van die oppergesag van die reg met hervorming van die strafregstelsel. Die uitvoerende direkteur, Ann Bernstein, sê hierdie stappe is deurslaggewend vir bestendigheid in Suid-Afrika.
Vroeër het ActionSA die Veelpartyhandves verlaat weens skendings deur ander partye. Die voorsitter, Michael Beaumont, sê verskeie partye het die ooreenkoms verbreek deur te kies om saam met die ANC te werk. Hy het bevestig ActionSA sal nie met die ANC saamwerk nie, hoewel ander vry is om hul eie besluite te neem. Beaumont het aangekondig ActionSA fokus nou op wat hy kan bied om staatsbestuur te verbeter eerder as om ander partye te kritiseer:
# ‘n Hospitaal in Gaza sê minstens 37 mense is vandag dood in ‘n Israelse aanval op ‘n VN-bestuurde skool waar die Israelse Weermag beweer ‘n Hamas-kampong was. Amerikaanse, Kataarse en Egiptiese bemiddellaars het intussen samesprekings hervat vir ‘n skietstilstand en die uitruil van gyselaars in die oorlog van byna agt maande na Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober. Israel beskuldig Hamas en sy bondgenote in Gaza van die gebruik van skole, hospitale en ander burgerlike infrastruktuur as bedryfsentrums, waaronder geriewe bestuur deur die Verenigde Nasies se Agentskap vir Palestynse Vlugtelinge.
# Tennis: Alexander Zverev sê hy wil bitter graag sy eerste Grand Slam-titel verower. Die vierde gekeurde Duitser het Alex de Minaur geklop om die vierde agtereenvolgende keer na die halfeindronde van die Franse Ope deur te dring. Hy het sy vorige elf wedstryde gewen en verlede maand sy sesde ATP Meesters-trofee in Rome verower. Zverev sê hy het hard gewerk om hom weer in die posisie te plaas:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-232-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-361-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-13-sent per vat.
# En ten slotte, die Ontwikkelingsagentskap van die Afrika-Unie sê die vasteland vorder met sy voedselsekerheidsdoelwitte. Die agentskap erken egter pogings bly onvoldoende voor 2025 se spertyd. Amptenare het tydens ‘n SAOG-vergadering in Lusaka, Zambië, gepraat oor die bevordering van ‘n mededingende landbousektor. Nepad se Landbouhoof, Manyewu Mutamba, het gewys op voortgesette pogings en steun vir lidstate, maar sê nog werk is nodig. Hy het verwys na die ontwikkeling van ‘n nuwe tienjaar-strategie om teikens na te jaag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….