Nuus 16:00
BULLETIN 5 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se uitreikpogings na die MK-party is vrugteloos
# Zizi Kodwa bedank as minister nadat hy van korrupsie aangekla word
# En, sokker: Talle Afrika-spanne moet noodgedwonge Wêreldbeker-kwalifiseerders op ‘n neutrale veld speel
# Die ANC glo die verkiesingsuitslag wys Suid-Afrikaners wil hê leiers moet saamwerk. Die party wil graag met alle partye skakel vir ‘n regering met eenheid, bestendigheid, transformasie en die beskerming van die demokrasie. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu-Motsiri sê die nasionale werkskomitee hersien verslae oor vergaderings met die IVP, die EFF, die DA en die Patriotic Alliance. Bhengu-Motsiri bevestig hulle het sonder sukses uitgereik na die MK-party:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het bedank. Kodwa is in die Landdroshof in Palm Ridge in Gauteng aangekla van korrupsie, saam met die voormalige uitvoerende hoof van EOH Holdings, Jehan Mackay. Die maatskappy het na bewering regeringskontrakte van 460-miljoen-rand gekry toe Kodwa adjunkminister van Staatsveiligheid was. Hy is glo met 1,6-miljoen-rand omgekoop. Die woordvoerder, Litha Mpondwana, sê Kodwa waardeer die mense saam met wie hy gewerk het:
# Die Hooggeregshof in Bloemfontein het die saak teen die veroordeelde moordenaar en verkragter, Thabo Bester, en agt mede-beskuldigdes tot volgende maand uitgestel. Dit volg nadat Bester se regsverteenwoordiger, Mohamed Siedat, aansoek gedoen het om te onttrek weens beperkings op toegang tot en raadpleging met sy kliënt. Ses van die nege beskuldigdes is uit op borgtog. Die adjunk-regterpresident van die Vrystaat, Cagney Musi, het die verhoor uitgestel sodat Bester ‘n nuwe regsverteenwoordiger kan aanstel:
# Eerste minister Benjamin Netanyahu sê Israel is voorbereid op ‘n intensiewe operasie aan die grens met Libanon, waar Israelse soldate betrokke is by byna daaglikse gevegte met Hizbollah-vegters. Skietgevegte tussen Israel en die Irans-gesteunde bondgenoot van Hamas het die afgelope week vererger, met herhaalde Israelse aanvalle diep binne Libanese grondgebied. Netanyahu se verregse koalisie-vennote, die minister van Nasionale Sekerheid, Itamar Ben Gvir, en die minister van Finansies, Bezalel Smotrich, het albei die afgelope paar dae gevra vir dringende optrede om sekerheid te herstel in die noorde.
# Sokker: Bykans die helfte van Afrika se Wêreldbeker-kwalifiseerders moet op ‘n neutrale veld gespeel word weens die swak toestand van stadions in die gasheerlande. Die beheerliggaam, CAF, het 17 uit 43 lande verbied om wedstryde aan te bied omdat hulle stadions nie op standaard is nie. Namibië moet die Orlando-stadion in Soweto as tuisveld gebruik vir vandag se wedstryd teen Liberië en Saterdag s’n teen Tunisië. Ander lande wat verbied is om hulle eie stadions te gebruik, sluit in Benin, Kongo, Madagaskar en Kenia.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-944-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-335-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….