Nuus 16:00
BULLETIN 3 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma se regspan beweer die MK-partygeskil is geskaad deur meineed en misdadigheid
# ‘n Omstrede diamanthandelaar verloor sy verkiesingsdeposito na ‘n swak vertoning
# En, krieket: Suid-Afrika pak Sri Lanka in die T20 Wêreldbekertoernooi terwyl Namibië vir Oman in ‘n superboulbeurt klop
# Oud-president Jacob Zuma beweer daar is misdadigheid en meineend in die MK-party se leierskapgeskil. Sy regspan maak aanspraak op vals verklarings en ongeoorloofde optrede deur die stigter, Jabulani Khumalo, wat sy skorsing uit die party in die Hooggeregshof in Johannesburg uitdaag. Zuma se advokaat, Dali Mpofu, het in die Kieshof gesê die MK-partyleierskap, wat Zuma self en sy dogter Duduzile Zuma-Sambudla insluit, is belaster met opgemaakte stories:
In nog ‘n verwikkeling het die omstrede diamanthandelaar Louis Liebenberg sy deposito van 40-duisend-rand verloor na ‘n swak vertoning in die verkiesing. News24 berig as onafhanklike kandidaat, met die belofte van die deel van Suid-Afrika se minerale rykdom, het Liebenberg landwyd net een-duisend-422 stemme gekry. Hy het ondanks sy bande met Zuma, aan wie hy meer as drie-miljoen-rand geskenk het vir regskoste, net 0,04-persent van die stemme in die Vrystaat gekry en 0,03-persent in Gauteng. Sy maatskappy, Tariomix, is verlede maand gelikwideer, gevolg deur klopjagte op sy eiendomme.
# RISE Mzansi het ‘n beroep gedoen vir voldoende hulpbronne om meer as een-duisend-400 mense by te staan wat geraak is deur vloede in Gqeberha en Kariega in die Nelson Mandelabaai-metro. Die party het medelye uitgespreek met die gesinne van die sewe mense wat dood is. Die woordvoerder, Gugu Ndima, het die nasionale regering aangemoedig om voldoende humanitêre ondersteuning aan ontwortelde gesinne te verskaf:
# Die Outomobiel Assosiasie voorspel aansienlike brandstofprys-verlagings dié maand, wat verligting sal bring na volgehoue stygings sedert Februarie. Onge-ouditeerde data dui op ‘n verlaging van sowat een-rand-ses-sent-per-liter vir 95- en 93-loodvrye petrol, ‘n rand-per-liter vir diesel, and 80-sent-per-liter vir lampolie. Die AA sê dit word aangevuur deur laer internasionale produkpryse en gesteun deur ‘n sterker rand-dollar-wisselkoers in Mei. Die AA herhaal oproepe vir ‘n hersiening van die brandstofprys-meganisme om permanent stygende koste teen te werk.
# Krieket: Suid-Afrika se T20 Wêreldbeker-veldtog begin vanmiddag in New York teen Sri Lanka. Die wedstryd begin om 4.30, Suid-Afrikaanse tyd. Vroeër vandag het Namibië vir Oman geklop in ‘n superboulbeurt tydens hul ontmoeting in Bridgetown, Barbados. Oman is vir 109 uitgeboul nadat Ruben Trumpelmann vier paaltjies laat kantel het en David Wiese drie. Die Afrika-land het daarna 109 vir ses behaal. Namibië het toe 21 sonder verlies in die superboulbeurt aangeteken en die Midde-Oosterse span beperk tot 10 vir een.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-227-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….