Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê sy stemme onder swart kiesers het verdubbel
# Die National Coloured Congress mik na verandering in die Wes-Kaap
# En, rugby: Ben-Jason Dixon speel in sy 50ste wedstryd vir die Stormers teen die Leeus
# DA-leier John Steenhuisen sê die party het volgens die jongste vooruitskatting sy stemme onder swart Suid-Afrikaners verdubbel. Hy het by die verkiesingsuitslagsentrum in Midrand gesê hy is gelukkig met die vertoning van die party tot dusver en sien uit na die veelpartyhandves se vergadering na die verkiesing. Steenhuisend spreek die hoop uit die opwaartse neiging in swart steun vir die DA sal voortduur namate meer uitslae bekend word:
Intussen is die National Coloured Congress verheug oor hul huidige uitslae in die Wes-Kaap. Die partysekretaris, Paul Bester, sê met meer as twee-persent steun is hulle gereed om verandering teweeg te bring. Bester sê onderwys is ‘n sleutelfokusgebied en die party beloof om te veg vir groter geleenthede vir gemarginaliseerde gemeenskappe. Hy sê die NCC sal ook diensleweringspogings in die provinsie verskerp:
Voorlopige uitslae van die Verkiesingskommissie toon die ANC was ‘n rukkie gelede voor met 41,78-persent nadat net meer as 67,69-persent van die stemdistrikte verwerk is. Die DA was op 22,63-persent met die MK-party op 12,08-persent. Die EFF en die IVP is onder die top vyf nasionaal, met onderskeidelik 9,5- en 3,07-persent. Die Verkiesingskommissie het intussen aangekondig die Noord-Kaap is die eerste provinsie om sy uitslag in al 730 stemdistrikte te verklaar. Die ANC het 49,34-persent van die stemme gekry, met die DA 21,19-persent en die EFF 13,25-persent.
# Solidariteit het ‘n hofstryd gewen teen die regering se aanstelling van Kubaanse ingenieurs in Suid-Afrika. Die Hooggeregshof in Pretoria het beslis die destydse minister van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie, Lindiwe Sisulu, se aanstellings in 2020 was onregmatig en grondwetlik ongeldig. Die departement moet ook die regskoste betaal. Solidariteit se adjunk-uitvoerende hoof, Anton van der Bijl, het beklemtoon Suid-Afrikaners word oor die hoof gesien ter wille van duur buitelandse werkers, wat ongeveer 75-miljoen-rand kos. Hy het die behoefte aan behoorlike prosesse in toekomstige aanstellings beklemtoon.
# Rugby: Die flank Ben-Jason Dixon maak sy 50ste verskyning vir die Stormers in môre se Verenigde Rugbykampioenskapskragmeting met die Leeus in Kaapstad. Daar is ‘n splinternuwe voorry, met die stutte Neethling Fouché en Sti Sithole en die haker André-Hugo Venter. Wandisile Simelane is op buitesenter om die beseerde Damian Willemse in die agterlyn te vervang. Sacha Feinberg-Mngomezulu vervang Warrick Gelant op heelagter. Die Stormers sluit die seisoen af met ‘n Suid-Afrikaanse derby op hul tuisveld, en skop om 1:45 af.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-409-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-344-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….