Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party beskuldig Ramaphosa van magsmisbruik om die verkiesingsuitslag te beïnvloed
# Gwen Ramokgopa moedig Suid-Afrikaners aan om die geleentheid aan te gryp om te stem
# En, rugby: Die Junior Bokke in dieselfde groep as Engeland, Argentinië en Fidji vir O20-kampioenskap
# Die MK-party het president Cyril Ramaphosa beskuldig van magsmisbruik om die verkiesingsuitslag te beïnvloed. Hulle het hofstukke teen hom ingedien en beweer hy het sy posisie Sondag tydens ‘n nasionale toespraak gebruik om kieserstemme onregverdig te swaai. Dit volg ná die DA soortgelyk opgetree en ook ‘n klagte teen Ramaphosa ingedien vir die oortreding van die Verkiesingsgedragskode. Albei partye beweer Ramaphosa het sy amp misbruik vir verkiesingsdoeleindes, wat die ANC ‘n onregverdige voordeel gegee het.
Die ANC se Tesourier-generaal, Gwen Ramokgopa, het intussen ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die geleentheid aan te gryp om in groot getalle te gaan stem. Sy bly vol vertroue haar party sal goed vaar in die algemene verkiesing. Ramakgopa hoop Suid-Afrikaners sal hul geloof in die regerende party hernu. Sy beklemtoon elke burger speel ‘n kritieke rol deur aan die verkiesing deel te neem:
# AfriForum veroordeel die uitspraak van die Appèlhof dat die Kill the Boer-dreunsang nie haatspraak is nie en sê dit plaas boere en Afrikaners in gevaar. Uitvoerende hoof, Kallie Kriel, kritiseer die uitspraak en beskryf dit as ‘n bevooroordeelde mening van waarnemende regter Raylene Keightley. Kriel sê indien die howe nie hierdie groepe beskerm nie sal hulle selfbeskerming moet vergroot met behulp van uitgebreide gemeenskapsveiligheidsnetwerke. Hy sê hulle oorweeg om die uitspraak na die Konstitusionele Hof te neem:
# Die Arbeidshof in Kaapstad het beslis Eskom het die Wet op Gelyke Indiensneming oortree deur nie-aangewese groepe soos wit mans nie op kortlyste te plaas nie. Dit hou verband met AP Erasmus, wat ondanks uitmuntende punte in 2017 ‘n bestuursrol geweier is. Die hof het bevind Eskom se uitsluiting van sekere rassegroepe is onwettig. Regter Hilary Rabkin-Naicker het Eskom beveel om die gebruik te staak en Erasmus 18 maande se salaris te betaal. Sy sê Eskom se verduideliking is nie in ooreenstemming met die behoorlike toepassing van diensbillikheid nie.
# Rugby: Die Junior Springbokke wil graag op hulle bronsmedalje van verlede jaar verbeter wanneer die Wêreldrugby Onder-20 Kampioenskap volgende maand weer in Suid-Afrika plaasvind. Die Baba Bokke is in Groep C saam met Engeland, Argentinië en Fidji. Die kampioen van verlede jaar, Frankryk, Wallis, Nieu-Seeland en Spanje, is in Groep A, met Ierland, Australië, Georgiё en Italië in Groep B. Die toernooi vind plaas in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch, die Athlone-stadion en die Kaapstad-stadion.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-328-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-351-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….