Nuus 16:00
BULLETIN 27 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA moedig die volgende administrasie aan om die momentum met ekonomiese hervorming voort te sit
# Die Franse president is woedend oor Israel se aanvalle op ‘n tentkamp in Gaza
# En, tennis: ‘n Oorwinning in skoon stelle vir Sinner in die eerste ronde van die Franse Ope
# Business Leadership South Africa moedig alle kandidate aan om seker te maak die verkiesing word regverdig hanteer en met respek vir die Grondwet. Die sake-organisasie sê die sesde administrasie het aansienlike vordering gemaak met die bestendiging van instellings en die vestiging van ekonomiese hervormings. Die organisasie moedig die volgende administrasie aan om hierdie momentum voort te sit en vennootskappe met die privaat sektor te versterk vir ekonomiese groei en werkskepping. BLSA se uitvoerende hoof, Busi Mavuso, sê dit is ‘n deurslaggewende oomblik vir nadenke oor ‘n grondwetlike demokrasie.
Intussen moedig die adjunk-nasionale polisiekommissaris, Tebello Mosikili, die vervoerbedryf aan om vreedsame samesprekings te voer en maniere te kry om hulle geskille te besleg. Sy sê die versperring van paaie in verkiesingsweek uit verset is ‘n strafregtelike oortreding en wetstoepassingsagentskappe sal streng optree teen enigiemand wat die wet oortree. Mosikili sê normale dag-tot-dag wetstoepassing duur voort met opsporingsoperasies, padversperrings, stop-en-deursoekings en patrollies:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het die instel van ‘n nuwe studentetoelaag-betalingsmeganisme aangekondig wat teen September ten volle in werking sal tree. Die bygewerkte stelsel is daarop gemik om betalings te stroomlyn, vertragings te verminder en naatlose toelaagverspreiding te verseker. Dit volg ná die beëindiging van kontrakte met vorige diensverskaffers weens geïdentifiseerde verkrygingstekorte. Die skema se administrateur, Freeman Nomvalo, sê aandag word geskenk aan uitstaande verblyfbetalings met ‘n toegewyde e-pos vir verhuurders om probleme op te los:
# Die Franse president, Emmanuel Macron, is woedend oor Israel se aanvalle op ‘n tentkamp vir ontwortelde Palestyne in Rafah, en eis ‘n onmiddellike skietstilstand. Amptenare in Gaza sê minstens 45 mense is in die aanval dood. Macron sê op sosiale media die operasies moet stopgesit word omdat daar geen veilige gebiede vir Palestynse burgerlikes is nie. Die Departement van Gesondheid in die Hamas-bestuurde Gaza sê die oornag-aanvalle het brande laat ontstaan wat ontwortelde mense in hulle tente laat doodbrand het, talle van hulle vroue en kinders.
# Tennis: Een van die gunstelinge, die Italianer Jannik Sinner, is veilig deur na die tweede ronde van die Franse Ope. Die wêreld se nommer twee-speler het die Amerikaner Christopher Eubanks in skoon stelle geklop terwyl die dak van die Suzanne Lenglen-baan die heel eerste keer toegemaak is weens reën. Ander wedstryde moes uitgestel word. In die vroue-afdeling het die agtste gekeurde Ons Jabeur van Tunisië ook haar eerste wedstryd op Roland Garros gewen en die Amerikaner Sachia Vickery 6-3, 6-2 uitgeskakel.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-430-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-348-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….