Nuus 16:00
BULLETIN 22 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suider-Afrikaanse waarnemers onthul die riglyne vir Suid-Afrika se verkiesing
# Israel herroep sy ambassadeurs nadat Ierland, Noorweë en Spanje erkenning gee aan Palestina
# En, tennis: Djokovic slaan af in Genève met net vier dae oor voor die Franse Ope
# Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se verkiesingswaarnemersending het sy gereedheid, beginsels en riglyne vir volgende week se verkiesing in Suid-Afrika bekendgestel. Die hoof van die sending, Enoch Kavindele, het in Johannesburg aan die media gesê die verkiesing sal beoordeel word volgens die SAOG se beginsels en riglyne van 2021. Hy sê die riglyne wil ‘n vrye en regverdige verkiesing verseker, met deelname deur burgers en mediatoegang vir all politieke partye:
# Die suster van die afgestorwe magnaat van Limpopo Theophilus Ramokokono Mphosi, Moditswi Ramokoto, sê die vertraging met die staatspatoloog se verslag belemmer die moordondersoek na haar broer se dood. Volgens News24 het onafhanklike forensiese verslae bevind die hoof van die Rheinland-groep van maatskappye is vergiftig, wat uitgeloop het op dringende regsoptrede en opgrawing. Sy dood in 2022 is aanvanklik toegeskryf aan longontsteking, maar is na die lykskouing verdag verklaar. Ramokoto vra die owerhede om die vrystelling van die verslag te versnel om geregtigheid te verseker.
# Israel het sy ambassadeurs in Ierland, Noorweë en Spanje herroep en sy gesante ontbied uit verset teen die drie regerings se erkenning van ‘n Palestynse staat. Die minister van Buitelandse Sake, Israel Katz, beskuldig die drie lande van beloning aan die Palestynse militantegroep Hamas vir sy aanval op 7 Oktober, wat die Gaza-oorlog ontketen het. Israel se gesante is uit Dublin, Oslo en Madrid herroep vir dringende raadplegings, en die land dreig oor ernstige gevolge. Frankryk sê dit is nie nou die regte tyd vir hom om erkenning aan Palestina te gee nie.
# Tennis: Die Geneefse Ope in Switserland is die laaste kleibaan-opwarmingstoernooi voor die Franse Ope Sondag begin. Die tweede gekeurde Casper Ruud van Noorweë is vandag in aksie teen die ongekeurde Oostenryker Sebastian Ofner. Die topgekeurde Novak Djokovic se aanslag begin ook vandag teen die Duitser Yannick Hanfmann. Djokovic het nog nie vanjaar ‘n toernooi gewen nie, maar Ruud sê die Serwiër is die gunsteling in Genève:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-34-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-409-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-91-sent per vat.
# En, die gewilde Glastonbury-fees vind vanjaar weer plaas met die bekendstelling van twee unieke persele in Somerset, Engeland. Vermaakkunstenaars soos Dua Lipa en die rock-konings, Coldplay, sal van die trekpleisters wees wanneer die fees op die 26ste van volgende maand afskop. Organiseerders sê die Wishing Well-perseel sal ‘n plek wees waar mense hul diepste begeertes kan loslaat, terwyl Scissors beskryf word as ʼn heerlike femme-queer-venue. Hierdie twee persele vervang die legendariese Rabbit Hole.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….