Nuus 16:00
BULLETIN 12 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OPOD waarsku oor sindikate se invloed op wetstoepassing
# Die internasionale voedselstelsel is beter voorbereid vir die super El Niño
# En rugby: Curwin Bosch maak sy buiging vir die Bulle teen die All Blacks
# Die adjunkdirekteur van Ondersoeke in die KwaZulu-Natalse Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Len John, sê misdaadsindikate verhoog die gevaar dat wetstoepassing en strafregsprosesse deur korrupsie ondermyn kan word. Hy het die betrokkenheid van taakspanne en mededingende misdaadgroepe voor die Madlanga-kommissie beweer. John sê daar is ‘n prima facie-saak teen die offisier Deena Govender wat taakspanne ontplooi het om die bendeleier Bevan Loftus te vermoor op versoek van ‘n ander misdaadfiguur:
Activists and Citizens Forum vra intussen die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, moet onmiddellik die aanklagte terugtrek teen die geskorste nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola. Woordvoerder Dennis Bloem sê Mothibi het voor die Madlanga-kommissie getuig die aanklagte sal hersien word. Hy bevraagteken die vertraging en sê Masemola behoort nie langer gebuk te gaan onder wat hy ongegronde aanklagte noem nie. Bloem vra president Cyril Ramaphosa om Masemola onmiddellik terug te bring:
# Die konsep-bygewerkte Nasionale Bioverskeidenheid-strategie en -aksieplan vir 2026 tot 2035 is vir openbare kommentaar gepubliseer. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, David Maynier, sê dit sal Suid-Afrika se pogings lei om bioverskeidenheid te bewaar en volhoubaar te gebruik. Die strategie stem ooreen met die globale Kunming-Montreal-bioverskeidenheids-raamwerk wat in 2022 aanvaar is. Die regering sê dit bevorder ‘n omvattende regerings- en samelewingsbenadering tot die beskerming van die land se bioverskeidenheid. Die publiek het 30 dae om skriftelike kommentaar in te dien.
# Landboukundiges sê voedselstelsels is beter toegerus om die gevolge van ‘n moontlik ernstige El Niño-weerverskynsel te hanteer danksy voedselvoorrade wat naby rekordvlakke is, verbeterde landboutegnologie en sterker uitvoerders. Hul sê vooruitgang in droogtebestande gewasse, besproeiing, moderne boerderytegnieke en weervoorspelling versterk die sektor se vermoë om uitdagende toestande die hoof te bied. Kenners waarsku egter droogtes, kunsmis-tekorte en geopolitieke ontwrigtings kan later vanjaar en tot volgende jaar steeds druk plaas op voedselvoorrade en voedselpryse.
# Rugby: Die voormalige Springbok-losskakel, Curwin Bosch, gaan in die diepkant ingegooi word wanneer hy die naweek sy buiging vir die Bulle teen die All Blacks maak. Hy het die Haaie in 2023 verlaat en die volgende jaar vir Brive in Frankryk uitgedraf voor hy onlangs by die Pretoriase span aangesluit het. Die 29-jarige, wat die eerste van sy twee toetse in 2017 gespeel het, sê hy is steeds vasbeslote om weer vir die Bokke te speel en hy glo as hy Saterdag presteer, sal dit sy poging aanhelp.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-270-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-404-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….