Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Regter Maya sê sy het meer selfvertroue as ooit vir die hoofregter-rol
# Mbalula sê die ANC maak nie beloftes nie, maar gee ondernemings
# En, rugby: Jacques Nienaber sê die Kampioenebeker-eindstryd tussen Leinster en Toulouse is soos ‘n toets
# Adjunkhoofregter Mandisa Maya sê sy het meer selfvertroue as ooit tevore vir die rol as hoofregter. Die enigste kandidaat word ondervra deur die Regterlike Dienskommissie. Maya is van mening die elf regters in die Konstitusionele Hof moet tot 15 vermeerder word. Sy vra grondwetlike wysigings om kleiner panele van regters toe te laat. Maya erken die posisie van hoofregter is veeleisend, maar glo sy is geskik vir die pos:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die party het daarin geslaag om sedert 2019 90-persent van sy ondernemings vir ekonomiese groei, werkskepping en dienslewering na te kom. Die party voer die laaste week van sy veldtog vir die komende verkiesing. Volgens Mbalula maak die ANC nie beloftes nie, maar gee ondernemings. Hy sê diegene wat beloftes maak, is nie in die regering nie:
# Die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kemptonpark, Gauteng, worstel vandag met uitdagings om bagasie te sorteer weens netwerkprobleme in die binnelandse terminaal. Tasse wat tans inbespreek is, kan nie deur die stelsel verwerk word nie. Inligtingstegnologie-tegnici werk aan die probleem, maar vertragings in bagasieverwerking word verwag. Lughawepersoneel hanteer die tasse en sakke per hand, en bedrywighede bly onaangeraak. Die Lughawensmaatskappy Suid-Afrika het om verskoning gevra vir enige ongerief en waarsku reisigers moet vertragings verwag.
# ‘n Passassier is dood en meer as 30 beseer toe ‘n vlug van Singapore Airlines tussen Londen en Singapoer deur turbulensie getref is. Die Boeing 777-300ER is vroeg vanoggend na Bangkok in Thailand herlei vir ‘n noodlanding. Daar was 211 passassiers en 18 bemanningslede aan boord. Die redery het in ‘n nuusverklaring medelye betoon met die naasbestaandes van die slagoffer. Die redery werk saam met die owerhede in Thailand vir mediese hulp aan die beseerdes en het ook ‘n span Bangkok toe gestuur vir bykomende hulp.
# Rugby: Twee reuse van Europese rugby meet Saterdag kragte in die eindstryd van die Kampioenebeker. Die Ierse span, Leinster, speel teen die Franse klub, Toulouse, in die Tottenham Hotspur-stadion in Londen. Toulouse is die suksesvolste klub in die geskiedenis van die kompetisie met vyf oorwinnings, terwyl Leinster die beker reeds vier keer ingepalm het. Die gewese Springbok-breier Jacques Nienaber is nou die senior afrigter van Leinster en verwag die intensiteit van ‘n toets in die eindstryd teen Toulouse:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-380-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-424-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….