Nuus 16:00
BULLETIN 16 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum beloof regsoptrede teen die BELA-wysigingswetsontwerp om Afrikaanse skole te beskerm
# Cosatu verwelkom die besluit om die Lily-myn te heropen na ‘n dodelike ongeluk
# En, krieket: ‘n Droom word bewaarheid vir die nuwe Protea-draaibouler Nqaba Peter
# AfriForum het sy toewyding herbevestig aan teenstand teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, nasionaal én internasionaal. Die hoof van Kultuursake, Alana Bailey, sê hulle regspan berei voor vir ‘n versoek aan president Cyril Ramaphosa om nie die wysigingswetsontwerp te onderteken nie nadat die Nasioinale Vergadering dit vanoggend goedgekeur het. Bailey beweer die wysigingswetsontwerp bedreig Afrikaanse skole en kulturele identiteit deur die taal uit te sluit uit staatskole, wat ‘n risiko is vir gehalte-onderwys weens die sentralisering van toelatingsbesluite.
# Cosatu het die besluit van die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie verwelkom om goedkeuring te verleen vir die heropening van die Lily- en die Barbrook-goudmyn in Mpumalanga. Drie mense is in 2016 ondergronds vasgekeer in ‘n vraghouer in die Lily-myn na ‘n grondstorting, en hulle liggame is steeds nie herwin nie. Matthew Parks van Cosatu sê die families en werkers wat getraumatiseerd is deur die verskriklike ongeluk kan nou hulp kry:
# Die inwoners van Hammanskraal, noord van Pretoria, het 29 Mei as sperdatum gestel waarop die Stad Tshwane hulle watersuiweringsaanleg moet herstel. Die Menseregtekommissie beskou kraanwater in die township as ongeskik vir menslike gebruik ná verlede jaar se cholera-uitbreking. Inwoners moet drinkwater koop of staatmaak op 54 watertenkwaens wat die metro maandeliks ses-miljoen-rand kos. Hulle sê die gebrek aan skoon water stel hul gesondheid in gevaar.
# Professor Danny Bradlow van die Universiteit van Pretoria sê Suid-Afrika het die potensiaal om inklusiewe wêreldwye ekonomiese dialoog en doeltreffende bestuur te beïnvloed wanneer die land volgende jaar die presidentskap van die G20 oorneem. Die G20 bestaan uit 19 lande, die Europese Unie en die Afrika-unie. Dit verteenwoordig ‘n beduidende deel van die wêreld se ekonomie, handel en bevolking. Suid-Afrika sal ‘n beraad vir staatshoofde aanbied en talle vergaderings oor ekonomiese samewerking koördineer. Bradlow moedig Suid-Afrika aan om gapings in die hervorming van die Internasionale Monetêre Fonds aan te pak.
# Krieket: Die Proteas vertrek môre na die Wes-Indiese Eilande vir ‘n reeks van drie T20’s wat die T20 Wêreldbekertoernooi in Amerika en die Karibiese Eilande voorafgaan. Die Leeus se draaibouler, Nqaba Peter, is ingesluit in Suid-Afrika se groep vir die reeks teen die Windies, maar is nie deel van die Wêreldbekergroep nie. Die 21-jarige Peter het tonge laat klap met die tweede meeste paaltjies in Krieket Suid-Afrika se T20-uitdaging. Hy sê die Protea-oproep bewaarheid sy drome:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-312-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-384-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….