Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is gereed om die wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering in die hof te beveg
# 76-duisend oorsese kiesers is gereed vir Suid-Afrika se verkiesing
# En, atletiek: ‘n Europese hof gaan sy finale uitspraak lewer in Caster Semenya se testosteroon-saak
# Die DA gaan die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering in die Konstitusionele Hof uitdaag. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa bekendgemaak het hy gaan die wetsontwerp môre onderteken. Volgens die party sal dit die gesondheidstelsel en die ekonomie ernstig benadeel. Die leier van die DA, John Steenhuisen, sê indien die party in dié maand se verkiesing ingestem word, sal hy die wetgewing herroep. Hy meen die wetsontwerp is die ANC se plan om belastingbetalers te beroof:
Die Verkiesingskommissie bevestig intussen dat sowat 76-duisend oorsese kiesers hierdie naweek gaan stem. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, het weens die groot aantal kiesers twee stemdae aangekondig vir die Verenigde Koninkryk op 18 en 19 Mei. Honderd-en-elf lande sal deelneem en het die nodige stemmateriaal ontvang. Mamabolo bevestig die stem-ure is van 7-uur soggens tot 7-uur saans, met verlengings om kiesers by te staan:
# ‘n Energie-ontleder, Chris Yelland, waarsku Eskom is nog nie buite gevaar nie, ondanks onlangse verbeterings in die energiebeskikbaarheidsfaktor. Volgens Yelland waarborg korttermynwinste nie volgehoue vordering nie en hy waarsku daarteen om bloot te aanvaar die krisis is verby. Hy erken wel ‘n positiewe neiging, maar beklemtoon die belangrikheid van volgehoue prestasie en waarsku oor moontlike terugslae. Ten spyte van ‘n afname in dieselgebruik, dring Yelland aan op deurlopende waaksaamheid en sê doeltreffende bestuur is deurslaggewend om langtermyn bestendigheid in Suid-Afrika se kragvoorsiening te verseker.
Intussen is die grootste gedeelte van die begroting van City Power in Johannesburg om die nutsmaatskappy in staat te stel om sy afhanklikheid van Eskom te verminder. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Dada Morero, het ‘n bedryfsbegroting van 22-miljard-rand aangekondig vir voorkomende instandhouding en die verhoging van koopkrag. Hy het tydens sy begrotingsrede daarop gewys dat elektrisiteit die raad se grootste bron van inkomste is wat in die huidige boekjaar na verwagting 21,5-miljard-rand sal oplewer. Morero het ook bekendgemaak die geïntegreerde hulpbronprogram word bespoedig:
# Atletiek: Die Europese Hof vir Menseregte sal môre sy finale besluit bekend maak oor Caster Semenya se regstryd oor testosteroonregulasies. Die dubbele Olimpiese 800 meter-kampioen betwis die vereiste om haar testosteroonvlak te verlaag om te kan deelneem. Die hof het in ‘n vorige uitspraak in haar guns beslis toe dit bevind het die vroeëre uitspraak van die Arbitrasiehof in Sport was diskriminerend. Volgens Semenya skend die regulasies haar waardigheid en menseregte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-87-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-346-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….