Nuus 16:00
BULLETIN 9 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vergadering vertraag die mosie oor die partybefondsingsgaping
# Gwede Mantashe sê politieke partyfondse moet die demokrasie befonds
# En, rugby: Die Bulle verwag ‘n kwaai kragmeting teen die voorlopers, Glasgow Warriors
# Die Nasionale Vergadering het ‘n mosie oor die gaping in partybefondsingswetgewing vir ‘n week uitgestel. Daarvolgens word alle politieke partye toegelaat om onverklaarde skenkings te ontvang. News24 berig betrokkenes beraadslaag oor die Wet op die Befondsing van Politieke Partye, wat die regulasies onopgelos gelaat het. President Cyril Ramaphosa se onlangse goedkeuring van die wet verwyder regulasies wat die verklaring vereis van skenkings bo 100-duisend-rand, en skenkings beperk tot 15-miljoen-rand per jaar. Opposisiepartye bevraagteken die vertraging en vra duidelikheid oor die status van die wetgewing. Nog raadpleging is geskeduleer vir die volgende sitting.
Die voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe, verdedig intussen Ramaphosa se ondertekening van die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsaangeleenthede. Hy het tydens ‘n verkiesingsaamtrek by die Richardsbaaise taxistaanplek in KwaZulu-Natal beklemtoon die veelparty demokrasiefonds sal alle partye bevoordeel. Mantashe verwerp aansprake dat die tydsberekening saamval met die ANC se finansiële benodigdhede vir die verkiesing:
# Die Stad Kaapstad het ‘n groot internasionale sakeproses-uitkontrakteringsmaatskappy, Foundever, in die stad verwelkom. Foundever se moedermaatskappy is in Amerika gesetel en dit is een van die grootste maatskappye in die wêreldwye oproepsentrumbedryf. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die maatskappy beoog om teen 2026 sowat drie-duisend-500 agente in Kaapstad in diens te neem, maar verwag om die teiken heelwat vroeër te behaal, gegewe die vinnige groei in buitelandse kliënte:
# Rugby: Die Bulle is dié seisoen die voorste Suid-Afrikaanse span in die Verenigde Rugbykampioenskap. Hulle is vierde op die punteleer met drie rondes oor om so hoog as moontlik te klim en tuiswedstryde in die uitklopronde te verseker. Die Bulle verwelkom die voorlopers, Glasgow Warriors, Saterdag op Loftus Versveld en die slot Jannes Kirsten verwag ‘n kwaai stryd:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-193-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-315-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-11-sent per vat.
# En, die Copernicus-klimaatsveranderingsdiens sê verlede maand was die warmste April op rekord, en die elfde agtereenvolgende maand van ongekende hoë temperature. Ondanks ‘n verswakte El Niño, wat toegeskryf word aan mensgemaakte klimaatsverandering, het globale temperature die hoogte ingeskiet. In April was temperature 1,58-grade Celsius hoër as voor industrialisasie. Die direkteur van die diens, Carlo Buontempo, waarsku kweekhuisgas-konsentrasies sal waarskynlik temperature steeds nuwe hoogtes laat bereik, en die 1,5-grade Celsius verwarmingsgrens oorskei, wat deur die Paryse Ooreenkoms gestel is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….