Nuus 16:00
BULLETIN 11 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Justisie stel vier wetsontwerpe bekend om wetgewing te hervorm
# FMD Response SA skets die pad vorentoe om Suid-Afrika se status as ‘n bek-en-klouseervrye uitvoerland te herwin
# En ‘n ikoniese katedraal in Colombië se toring stort gedeeltelik ineen tydens gister se verwoestende aardbewing
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het vier konsepwetsontwerpe aangekondig om bestaande wette te versterk. Dit sluit strenger strawwe vir onwettige mynbou in en maak voorsiening vir misdrywe wat verband hou met sameswering en die aanhitsing tot ernstige misdade, asook strenger maatreëls vir trusts. Die Hof vir Klein Eise se bedrag is verhoog vanaf 20- tot 30-duisend-rand. Kubayi sê die publiek kan tot 11 September kommentaar lewer:
# FMD Response SA sê Suid-Afrika moet wye, gelyktydige immuniteit onder beeste bereik om die oordragsiklus van bek-en-klouseer te verbreek en weer toegang tot voorkeur-uitvoermarkte te verkry. Woordvoerder Andrew Morphew sê minstens 80-persent van beeste moet binne ses tot agt weke immuun wees, eerder as deur ‘n geleidelike inentingsprogram. Hy sê hoewel die privaat sektor toegelaat word om betrokke te raak in die verkryging en verspreiding van entstowwe, bly grootskaalse inentingsveldtogte en deurlopende monitering noodsaaklik om Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status te herwin.
Nuus uit die buiteland:
# Die ikoniese Cathedral Basilica of Our Lady of Rosary in Manizales, Colombië, het gedeeltelik ingetuimel tydens gister se dodelike aardbewing van 7.4. Die kragtige skudding, met die middelpunt in die Chocó-distrik, het ‘n spits van die byna eeu-oue neo-Gotiese katedraal laat omval. ‘n Groot sy-toring het ook gekraak en teen die sentrale hoofstruktuur oorgehel. Beeldmateriaal op sosiale media het die presiese oomblik van die instorting vasgevang, asook ‘n priester wat aan ‘n pilaar binne die kerk vasklou terwyl die gebou hewig skud tydens die oggendmis.
# Krieket: Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada sê hulle verwelkom die vryheid en verantwoordelikheid om op eie bodem in ‘n Wêreldbekertoernooi te speel. Suid-Afrika sal volgende jaar saam met Zimbabwe en Namibië die 14de eendag-Wêreldbekertoernooi aanbied. Die toernooi keer na 24 jaar terug na Afrika. Rabada het deelgeneem aan Suid-Afrika se twee mees onlangse eendag-Wêreldbeker-veldtogte in 2019 en 2023. Hy sê die span is vol vertroue na hul oorwinning oor Australië in verlede jaar se wêreldtoetskampioenskaps-eindstryd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-362-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-394-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-47-sent per vat.
# En ten slotte: Activists and Citizens Forum vra die regering en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur om ‘n standbeeld van Winnie Mandela by die Uniegebou in Pretoria op te rig. Woordvoerder Dennis Bloem sê die land moet nooit haar bydrae en opofferings vergeet nie. Hy sê toe leiers se stemme deur gevangenskap, verbanning of ballingskap stilgemaak is, was Mama Winnie s’n die een stem wat die apartheidsregering nie kon doof nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….