Nuus 16:00
BULLETIN 13 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Valke-amptenaar getuig oor beweerde omkoopgeld van 250-duisend-rand
# Die Microsoft-onderbreking duur voort en ontwrig ook Suid-Afrikaanse ondernemings
# En krieket: Die Proteas se afrigter sê hulle sal Bangladesj nie onderskat nie
# ‘n Ondersoekbeampte van die Valke het voor die Madlanga-kommissie getuig ‘n Johannesburgse metropolisiebeampte het hom 250-duisend-rand se omkoopgeld aangebied om ‘n diefstalsaak te laat verdwyn. Adjudant-offisier Phuti Mashala sê dit hou verband met die beweerde diefstal van 1,5-miljoen-rand van die sakeman Nawazish Raja in Augustus 2023. Hy sê die omkoopgeld is eers aangebied by ‘n vulstasie en later weer in die Brixton-blitspatrollie se kantore in Johannesburg. Mashala sê die Valke het die beweerde diefstal ondersoek:
# Die Stad Tshwane sê die vlak twee-waterbeperkings beteken hoër tariewe vir huishoudings wat oormatig water gebruik. Dit het ten doel om verantwoordelike waterverbruik aan te moedig en vermorsing hok te slaan. Huishoudings wat tussen 43- en 60-kiloliter water gebruik, kan ‘n styging van 56,5-persent verwag. Woordvoerder Lindela Mashigo sê eiendomme met ‘n waarde van 250-duisend-rand of minder, asook amptelik geregistreerde hulpbehoewende gevalle, word hiervan vrygestel:
# Die vakbondfederasie SAFTU steun Union Against Hunger se veroordeling van Shoprite se buitensporige vergoeding vir uitvoerende hoofde en sy versuim om voedsame kos bekostigbaar te maak vir werkersklas- en arm gesinne. Die organisasie sê uitvoerende hoof Pieter Engelbrecht het vanjaar 117,8-miljoen-rand verdien, blykbaar 35-persent meer as verlede jaar. Asive Dyani van SAFTU sê dit kan nie verdedig word terwyl miljoene mense honger ly en Shoprite se werkers van die minste verdien nie:
# Duisende Suid-Afrikaanse gebruikers ondervind steeds probleme met Microsoft-dienste nadat ‘n wêreldwye onderbreking gister begin het. Downdetector het vanoggend voor agtuur meer as 870 klagtes oor Microsoft 365, en 740 oor Outlook aangeteken. Die ontwrigting raak e-posse, kalenders en sekere werksplek-hulpmiddels, hoewel standaard Teams-oproepe en -boodskappe steeds werk. Microsoft sê hy skuif mense oor na alternatiewe stelsels en is besig om bedieners te herlaai. Die onderneming het nog nie bevestig wanneer alle dienste herstel sal wees nie.
# Krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê hulle sal Bangladesj nie onderskat in die tuisreeks van twee toetse nie, al is Suid-Afrika tans tweede op die Wêreldtoetskampioenskaps-punteleer en die Asiatiese land vyfde. Die Proteas het hulle posisie verbeter met die onlangse reeksoorwinning oor Australië, maar Bangladesj het Australië, Nieu-Seeland, die Windies en Pakistan die afgelope jare verslaan. Die reeks word gevolg deur drie eendagwedstryde en drie T20’s. Die eerste toets begin Sondag op die Wanderers en die tweede die 23ste in Centurion.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-174-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-894-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….