Nuus 16:00
BULLETIN 25 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oos-Kaapse Drankraad se mislukkings het menseregte geskend
# President Ramaphosa vra optrede vir universele toeganklikheid in die vervoersektor
# En, rugby: Die Haaie bring hulle Bokke terug vir die stryd teen Scarlets
# Nomahlubi Khwinana van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het die Oos-Kaapse Drankraad se lakse optrede in die Enyobeni-kroegvoorval gekritiseer en dit verbind met skendings van noodsaaklike menseregte. Khwinana sê die aanhoudende uitreiking van dranklisensies sonder voldoende monitering- en afdwingingsvermoë is regstreeks in stryd met grondwetlike en internasionale menseregtewette. Sy beklemtoon dit stel kwesbare gemeenskappe in gevaar en kom nie die verpligting na om lewens te beskerm nie:
# President Cyril Ramaphosa sê dringende optrede is nodig vir universele toeganklikheid in die vervoersektor. Die president het gepraat op die Vervoerspitsberaad oor Universele Toeganklikheid in Ekurhuleni, Gauteng, en beklemtoon die struikelblokke vir mense met gestremdhede. Ramaphosa vra samewerking en besliste oplossings, en sê dit is noodsaaklik om die veiligheid te verseker van voetgangers, fietsryers en openbare vervoergebruikers. Hy wys op die moontlikhede wat ontluikende tegnologie inhou vir meer inklusiewe vervoerstelsels:
# Die Wêreldbank het Suid-Afrika se Nasionale Tesourie raad gegee oor ‘n klimaatrisiko-strategie ná onlangse oorstromings. Keuses sluit in klimaatversekering of ‘n gebeurlikheidsfonds vir groot weergebeurtenisse. Munisipaliteite kan ook aangespoor word om in infrastruktuur en ander maatreëls te belê om die uitwerking van onverwagte weergebeurtenisse te verminder. Die bank sê om ‘n versperring teen die uitwerking van weerrampe op te rig sal nog ‘n stap wees wat die regering kan doen om aardverwarming aan te pak. Die plan volg ná erge oorstromings in KwaZulu-Natal wat infrastruktuur beskadig en sterftes veroorsaak het.
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, het die VSA en China gevra om hulle verskille verantwoordelik te bestuur nadat hy in Beijing aangekom het vir taai samesprekings met Chinese leiers. Hy sal na verwagting ‘n reeks uitdagende kwessies pak, insluitend Chinese steun vir Rusland en sy hantering van Taiwan. China sal waarskynlik kwessies ophaal soos handelskommer, met die nuwe Amerikaanse optrede teen die gewilde Chinese sosiale media-toepassing, TikTok. ‘n Vol dag se samesprekings lê môre voor, insluitend ‘n moontlike ontmoeting met president Xi Jinping.
# Rugby: Lukhanyo Am lei ‘n hoogs ervare Haaie-span vol Springbokke in môreaand se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Scarlets. Hoofaftigter John Plumtree het na ‘n week se ruskans baie van sy ervare spelers teruggebring vir die kragmeting in Wallis. Phepsi Buthelezi, wat dié week op flank gekies is, sê hulle het groot respek vir die Walliesers. Die span sluit Ox Nché, Vincent Koch, Eben Etzebeth, Grant Williams en Makazole Mapimpi in. Die wedstryd skop 8:35 SA-tyd af.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-en-21-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-325-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….