Nuus 16:00
BULLETIN 23 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering keur die uitbreiding van die kindersteuntoelae vir leerders af
# Die UDM sê diensleweringsbetogings is ‘n alledaagse ding in Suid-Afrika
# En, rugby: Die uitvoerende hoof van die Crusaders ontken die nuwe afrigter sal ná ‘n aaklige seisoen die trekpas kry
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het herhaal die regering sal nie die kindersteuntoelae uitbrei na leerders wat nog op skool is nie. Dit weerspreek die voormalige minister, Bathabile Dlamini, se verklaring in 2015 wat die voorstel ondersteun het. Volgens Zulu kan leerders van 18-jaar en ouer wat nie langer die toelae sal ontvang nie, wel aansoek doen vir die Covid-19 Maatskaplike Verligting van Nood-toelae. Sy het ook verwys na die Nasionale Geïntegreerde Maatskaplike Beskermingstelsel, wat die ontvangers van kindersteuntoelaes verbind met die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente vir moontlike hoër onderwys-befondsing.
# Die UDM sê diensleweringsbetogings het ‘n alledaagse ding in Suid-Afrika geword, veral in afgeskeepte gemeenskappe. Die toename in verset kan ernstige ekonomiese gevolge hê, wat die vernietiging van infrastruktuur en eiendom insluit, asook die ontwrigting van voorradevloei, en ‘n verlies aan beleggersvertroue. Die UDM se sekretaris-generaal, Yongama Zigebe, sê omdat betogings kan handuit ruk sal hulle pro-aktiewe maatreëls instel om ‘n toename en die risiko van geweld te voorkom:
# Die DA het onthul die Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal in Gauteng het verlede jaar 210,7-miljoen-rand se uitstaande betalings aan 357 verskaffers laat ophoop. Meer as die helfte van die rekeninge is meer as twee maande agterstallig en meer as ‘n vyfde vir langer as vier maande. Michele Clarke van die DA sê dit is skokkend, veral omdat Baragwanath die grootste hospitaal in Afrika is en meer as 1,5-miljoen mense in die groter Soweto-gebied dien:
# Rugby: Die Crusaders het gerugte ontken dat die nuwe afrigter, Rob Penney, die trekpas gaan kry nadat die span tot dusver hierdie seisoen slegs een van sy agt Superrugby-wedstryde kon wen. Die sewe-malige kampioen is slegs ‘n skadu van die span wat die kompetisie onder die vorige hoofafrigter, Scott Robertson, oorheers het voordat hy ná die Wêreldbeker-toernooi na die All Blacks geskuif het. Die uitvoerende hoof, Colin Mansbridge, beskryf oproepe vir Penney se afdanking as kinderagtig. Penney is in 2021 as afrigter van die Waratahs afgedank.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-36-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-305-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, het onthul daar is meer as twee-duisend onopgeëiste liggame in staatslykshuise regoor die land. Die minister het op ‘n parlementêre vraag geantwoord die meeste onopgeëiste liggame is in KwaZulu-Natal aangemeld. Die departement het verduidelik die lang identifikasieproses waarmee die polisie moet help, kan van sewe dae tot ‘n jaar duur, voordat ‘n begrafnis vir ‘n armlastige gehou kan word. Tydige identifisering word aangemoedig om die vertraging van vingerafdruk-bevestiging en samewerking met wetstoepassing te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….