Nuus 16:00
BULLETIN 23 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa word gevra vir etiese leierskap met regeringsaanstellings
# AfriForum verwelkom ‘n Amerikaanse wetsontwerp wat korrupte ANC-politici teiken
# En krieket: Stokes verras met sy besluit na hy die loot wen in die vierde toets teen Indië
# Voormalige hoofregter Raymond Zondo het president Cyril Ramaphosa gevra vir etiese leierskap met die aanstelling, skorsing en afdanking van openbare ampsdraers. Hy het op die Raad van Kerke se Teenkorrupsie-konferensie in Johannesburg die aanstelling gekritiseer van persone wat van korrupsie verdink word. Zondo sê etiese leierskap beteken Ramaphosa moet kandidate kies wat nie van wangedrag verdink word nie. Hy beklemtoon wanneer sulke mense toegelaat word om in hulle posisies te bly, verswak dit die stryd teen korrupsie, en openbare vertroue:
# AfriForum het die goedkeuring van ‘n wetsontwerp van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se komitee verwelkom wat tot geteikende sanksies teen korrupte Suid-Afrikaanse politici kan lei. Ernst van Zyl van AfriForum sê die Hersieningswet op Amerikaans-Suid-Afrikaanse Bilaterale Betrekkinge van 2025, wat deur die kongreslid Ronny Jackson ingestel is, is daarop gemik om individue aanspreeklik te hou sonder om gewone burgers te straf. Hy het beklemtoon die wetsontwerp volg op toenemende diplomatieke spanning:
# Die adjunkminister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Thandi Moraka, sê herstellende geregtigheid is meer as finansiële herstel. Sy het die Pan-Afrika Parlement toegespreek en waardigheid, genesing en hervorming beklemtoon. Sy het ook president Fortune Charumbira se leierskap geprys en Suid-Afrika se verbintenis bevestig om as gasheerland van die parlement op te tree. Moraka het bevestig dat ‘n hersiene gasheerlandooreenkoms amper voltooi is. Sy het ook die parlement aangespoor om saam te werk aan die vorming van globale beleid en inklusiewe groei.
# Krieket: Indië gebruik die wêreld se beste toetsbouler, Jasprit Bumrah, in die vierde toets teen Engeland in Manchester. Dit beteken dat hy uitgelaat kan word vir die laaste toets weens ‘n seer rug. Indië het dié kans gevat omdat die gashere 2-1 voorloop en ‘n oorwinning vir die besoekers ononderhandelbaar is. Engeland se kaptein, Ben Stokes, het verras met die loot toe hy die besoekers laat kolf het, want geen span wat gekies het om eerste te boul kon nog ooit ‘n toets op Old Trafford wen nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-577-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-426-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-53-sent per vat.
# En ten slotte: Die uiters gewilde Pokémon-franchise gaan sy eerste permanente temapark in die lente van 2026 in die Japanse hoofstad, Tokio, open. Die Pokémon-maatskappy, ‘n filiaal van die Japannese spelreus Nintendo, het die aankondiging gedoen. Japan het die afgelope maande ‘n rekordgetal besoekers verwelkom, wat die vraag na toeriste-aantreklikhede verhoog het, insluitend ‘n “Making of Harry Potter“-rolprentateljee-park wat in 2023 in Tokio geopen is. Die nuwe gebied van 2,6-hektaar, genaamd “PokePark Kanto“, sal binne die stad se grootste pretpark, Yomiuri Land, geleë wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….