Nuus 16:00
BULLETIN 6 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA beskou sy eerste munisipale verkiesing as ‘n belangrike wegspringplek vir toekomstige groei
# België keur omstrede huisdeursoekings van ongedokumenteerde migrante goed
# En rugby: Ierland en die Pumas skop die Nasieskampioenskap se noordelike ronde vanaand in Dublin af
# Build One South Africa se leier, Mmusi Maimane, beskryf hulle eerste deelname aan die verkiesing as ‘n strategiese weerspieëling en belangrike beginpunt vir toekomstige groei. Hy het in Midrand, Gauteng, gesê BOSA het verteenwoordiging verseker in al die metro’s en verskeie distriksmunisipaliteite. Maimane sê die party sal die uitslae aanwend om sy strukture te versterk, by te dra tot plaaslike rade en sy strategie te verfyn met die oog op 2029 se algemene verkiesing:
RISE Mzansi is intussen vol vertroue oor sy prestasie in die munisipale verkiesing. Woordvoerder Mabine Seabe sê hul veldtog is doelbewus op sewe munisipaliteite in Gauteng gerig, waar daar reeds ‘n gevestigde ondersteuningsbasis is. Vroeë uitslae toon die party het bykans 2,4-persent van die wyk-stemme verwerf, wat neerkom op meer as 14-duisend stemme. Hy sê RISE Mzansi se veldtog het klem gelê op bekwame, etiese leierskap en beter munisipale bestuur:
Nuus uit die buiteland:
# Die Belgiese Parlement het ‘n omstrede wet bekragtig wat die polisie toelaat om ongedokumenteerde migrante se huise te deursoek. Dit is gemik op asielsoekers wat ‘n bedreiging vir openbare of nasionale veiligheid is. Deursoekings sal slegs met die toestemming van ‘n ondersoekregter mag plaasvind. Die wet is vroeg vanoggend bekragtig ná ‘n deurnag-debat te midde van grootskaalse betogings. Drie-duisend mense het in Brussel ‘n menslike ketting gevorm, terwyl meer as 50 betogings landwyd plaasgevind het. Menseregte-organisasies waarsku dit is ‘n ernstige bedreiging vir privaatheid en grondwetlike regte.
# Rugby: Die noordelike afdeling van die Nasieskampioenskap skop vanaand in Dublin af, waar Ierland gasheer is vir Argentinië. Afskop is net na agtuur. Môremiddag 1.40 speel die Springbokke in Turyn teen Italië, gevolg deur die wedstryd tussen Skotland en die All Blacks op Murrayfield in Edinburg. Daarna verwelkom Wallis vir Japan in Cardiff, terwyl Frankryk en Fidji mekaar in Lyon die stryd aansê. Sondagmiddag pak Engeland en die Wallabies mekaar op Twickenham in Londen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-109-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-65-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-14-sent per vat.
# En ten slotte: Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand het nuwe digitale 3D-skanderings- en drukdienste vir rugstutte by sy Prostese-sentrum ingestel. Die LUR, Mireille Wenger, sê die tegnologie het reeds ses pasiënte gehelp danksy ’n belegging van ongeveer 5,5-miljoen-rand. Sy sê ’n rugstut kan ‘n aansienlike verskil maak aan die lewensgehalte van baie pasiënte met skoliose, rugbeserings en ander toestande:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….