Nuus 16:00
BULLETIN 22 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as drie-duisend oortreders is in 2023 vrygelaat
# Die MK-party se stigter beloof ‘n verkiesings-oorwinning ondanks ANC-struikelblokke
# En, tennis: Simona Halep onttrek aan die Madridse Ope
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het die vrylating aangekondig van drie-duisend-159 oortreders, onder wie 760 gevangenes wat tussen Augustus en November 2023 op parool vrygelaat is. Dit was weens ‘n spesiale vonnisversagting. Die Wes-Kaapse LUR vir Gemeenskapsveiligheid en Polisie-oorsig, Reagen Allen, merk op 113 van dié op parool in die provinsie is her-aangekeer vir verskeie oortredings, waaronder aanranding, diefstal en moord. Hy beklemtoon diegene op parool moet hou by hulle streng voorwaardes en die wet:
# Die stigter van die MK-party, Jabulani Khumalo, kritiseer die ANC-leierskap en sê hulle sal nie die party se verkiesingsukses kniehalter nie. Hy verwelkom die uitspraak van die Hooggeregshof in Durban, wat die ANC se poging verwerp het om te keer dat die MK-party die uMkhonto we Sizwe-handelsmerk gebruik. Khumalo sê ondanks die uitdagings berei hulle voor vir ‘n triomf in die verkiesing:
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, veroordeel enige anti-Semitisme op kollege-kampusse met pro-Palestynse betogers wat die vyfde dag op die kampus van die Columbia-universiteit geëis het dat sy finansiële bande met Israel verbreek moet word. Studente beset die kampus en vra die vooraanstaande instelling in New York, wat ‘n uitruilprogram met die Universiteit van Tel Aviv het, om alle bedrywighede te boikot wat met Israel verband hou. Dit word geëis in die lig van die land se oorlog met Hamas-militante en die gevolglike humanitêre krisis in Gaza.
# Tennis: Die voormalige wêreld nommer een-speler, Simona Halep, het onttrek aan dié week se Madridse Ope in die Spaanse hoofstad. Sy sê sy het nog tyd nodig om heeltemal fiks te word nadat sy 18 maande nie kon speel nie weens ‘n opkikkerverbod. Sy het onlangs as promotorskeuse in die Miami-ope gespeel, maar in die eerste ronde verloor. Die 32-jarige Roemeense speler was onder die top tien ter wêreld toe sy geskors is, maar is nou in posisie een-duisend-146. Sy maak staat op promotorskeuses om aan WTA-toernooie deel te neem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-13-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-889-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-343-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-47-sent per vat.
# En ten slotte, die Afrika-kinderspitsberaad, onderskryf deur die Verenigde Nasiese se Konvensie oor die Regte van die Kind, kom in Augustus in Johannesburg byeen. Die geleentheid sal 500 kinders fisies en virtueel ontvang om maatskaplike uitdagings aan te pak. Verlede jaar se spitsberaad in Nairobi het die weg gebaan vir hierdie Pan-Afrika-konferensie, toegespits op kinderregte en maatskaplike sekerheid. Die adjunkminister van Maatskaplike Ontwikkeling, Hendrietta Bogopane-Zulu, sê die spitsberaad is gemik op die bemagtiging van gestremde kinders:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….