Nuus 16:00
BULLETIN 19 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Transnet word gelas om vertroulike inligting met Sasol te deel te midde van hul geskil
# ‘n Voormalige KPMG-beursspesialis word borgtog van 50-duisend-rand toegestaan in die bedrogsaak teen hom
# En, motorsport: Lando Norris spring voor weg in die snelren op die Chinese Grand Prix
# Die Hooggeregshof in Pretoria het Transnet gelas om vertroulike inligting met Sasol te deel. Dit bevat kommersieel-sensitiewe inligting, insluitend data oor die koste, inkomste en hulpbronne wat verband hou met die bedryf van sy petroleum-pypleidings, en veral die ruolie-pyplyn van Durban na Sasolburg. Die dokumente sal Sasol help in sy poging om ‘n eis van 815-miljoen-rand teen hom te verdedig. ‘n Groot hoeveelheid dokumente moet binne 15 dae aan Sasol beskikbaar gestel word.
# Die voormalige KPMG-beursspesialis, Fidelis Moema, en sy medebeskuldigdes is borgtog van 50-duisend-rand elk toegestaan in die Landdroshof in Palm Ridge, Gauteng. Hulle word beskuldig van bedrog van 16,5-miljoen-rand wat vir universiteitstudente van KPMG geoormerk was. News24 berig Moema word ook van diefstal aangekla. Die drie het meer as 400 aanklagte van bedrog en geldwassery teen hulle, na bewering oor bedrieglike transaksies en geldwassery deur verskeie ondernemings. Landdros Sharon Soko het teen paspoortaansoeke gemaan en die beskuldigdes ook gewaarsku om nie getuies te intimideer nie.
# Die vakbond Solidariteit het kommer uitgespreek oor die haastige finalisering van die Wysigingswetsontwerp op Pensioenwette, wat die tweepot-stelsel vir vroeë toegang tot pensioenfondse instel. Die stelsel, wat op 1 September in werking sal tree, laat vroeëre toegang tot pensioenfondse toe. Die vakbond voer aan onvoldoende tyd is vir toetsing en ontwikkeling toegewys, wat moontlik tegniese faktore miskyk. Marius Croucamp van Solidariteit waarsku die stelsel kan die bewaring van aftreefondse in gevaar stel en die belastinglas verhoog:
# Motorsport: Lando Norris spring in die voorste posisie weg in môre se snelren op die Chinese Grand Prix. Formule Een is die eerste keer in vyf jaar terug in China vir ’n naweek wat ook die eerste snelren van die jaar insluit. Norris het tydens die kwalifiserende ronde in nat weerstoestande die pas aangegee in sy McLaren, voor die Mercedes van Lewis Hamilton en Fernando Alonso in sy Aston Martin. Norris hoop die nat toestande sal voortduur in Sjanghai:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-17-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-271-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-382-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-52-sent per vat.
# En, laastens: Die Universiteit van die Wes-Kaap sê vir baie dekades was grondgeskille onder die beduidende oorsake van oorloë regoor Afrika en regoor die wêreld, dikwels met verwoestende gevolge. ‘n Baanbrekers-projek deur ‘n UWK-student bied egter hoop om dié soort kwessies op te los. Mulabah Forkpa se benadering is diep gewortel in sy visie vir afwenteling, wat besluitneming op die laagste moontlike vlak beteken. Dit bring grondhervorming na plaaslike gemeenskappe, deur gerespekteerde tradisionele instellings en praktyke te gebruik. Forkpa kry sy LLM-graad in Transnasionale Strafregspleging.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….